Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 16:22-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Gaandeweg het Omri se aanhang sterker geword as dié van Tibni seun van Ginat. Tibni het gesterf en Omri het koning geword.

23. Omri het in die 31ste regeringsjaar van koning Asa van Juda koning geword. Hy het twaalf jaar regeer, ses daarvan in Tirsa.

24. Omri het die Samariaheuwel vir 68 kilogram silwer van Semer gekoop. Hy het ’n stad bo-op die heuwel gebou en dit Samaria genoem ter ere van Semer, die vorige eienaar van die heuwel.

25. Omri het egter gedoen wat verkeerd was vir die Here, selfs nog meer as sy voorgangers.

26. Hy het die voorbeeld van Jerobeam seun van Nebat nagevolg en voortgegaan met die sonde van afgodery wat Jerobeam Israel laat doen het. Hulle het die Here die God van Israel met hulle afgodsbeelde uitgetart.

27. Die ander gebeurtenisse tydens Omri se regering, sy dapperheid en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

28. Toe Omri sterf, is hy in Samaria begrawe. Sy seun Agab het hom as koning opgevolg.

29. Agab seun van Omri het in die 38ste regeringsjaar van koning Asa van Juda koning geword van Israel. Hy het 22 jaar lank in Samaria regeer.

30. Agab het egter gedoen wat verkeerd was vir die Here, selfs meer as enige van die konings voor hom.

31. Asof dit nie genoeg was nie, het hy met Isebel, die dogter van koning Etbaäl van die Sidoniërs, getrou en Baäl begin dien en aanbid.

32. Eers het hy ’n tempel en ’n altaar vir Baäl in Samaria gebou.

33. Daarna het hy ’n paal wat aan Asjera gewy is, opgerig. Hy het die Here die God van Israel meer uitgetart as al die konings van Israel voor hom.

34. Gedurende sy regering het Giël uit Bet-El die stad Jerigo herbou. Toe hy die fondamente gelê het, het sy oudste seun Abiram gesterf. Toe hy die poortdeure gehang het, het sy jongste seun, Segub, gesterf. Dit het gebeur net soos die woord van die Here deur Josua seun van Nun lank te vore oor Jerigo gesê het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 16