Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 16:14-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Die ander gebeurtenisse tydens Ela se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

15. Simri het in die 27ste regeringsjaar van koning Asa van Juda koning geword. Hy het net sewe dae in Tirsa regeer. Die leër van Israel was besig om die Filistynse dorp Gibbeton aan te val.

16. Die leër het gehoor van Simri se sameswering teen die koning, en dat hy die koning doodgemaak het. Hulle het toe nog dieselfde dag vir Omri, bevelvoerder van die leër, tot nuwe koning uitgeroep.

17. Omri het die beleëring van Gibbeton gestaak en Tirsa beleër.

18. Toe Simri sien dat die stad ingeneem gaan word, het hy na die paleis se versterkte vesting gevlug, die paleis om hom aan die brand gesteek en in die vlamme gesterf.

19. Dit het gebeur omdat hy gesondig het en gedoen het wat verkeerd was vir die Here. Hy het die voorbeeld van Jerobeam gevolg deur voort te gaan met die sonde van afgodery wat Jerobeam die volk laat doen het.

20. Die ander gebeurtenisse tydens Simri se regering en sy sameswering is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

21. Teen hierdie tyd was daar twee groepe in Israel. Een helfte wou Tibni seun van Ginat as koning hê, en die ander helfte het Omri ondersteun.

22. Gaandeweg het Omri se aanhang sterker geword as dié van Tibni seun van Ginat. Tibni het gesterf en Omri het koning geword.

23. Omri het in die 31ste regeringsjaar van koning Asa van Juda koning geword. Hy het twaalf jaar regeer, ses daarvan in Tirsa.

24. Omri het die Samariaheuwel vir 68 kilogram silwer van Semer gekoop. Hy het ’n stad bo-op die heuwel gebou en dit Samaria genoem ter ere van Semer, die vorige eienaar van die heuwel.

25. Omri het egter gedoen wat verkeerd was vir die Here, selfs nog meer as sy voorgangers.

26. Hy het die voorbeeld van Jerobeam seun van Nebat nagevolg en voortgegaan met die sonde van afgodery wat Jerobeam Israel laat doen het. Hulle het die Here die God van Israel met hulle afgodsbeelde uitgetart.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 16