Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 15:22-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Daarna het koning Asa die hele Juda opgeroep. Elkeen sonder uitsondering moes help om die klippe en hout wat Baesa vir die bouwerk in Rama gebruik het, weg te dra. Asa het hierdie boumateriaal gebruik vir bouwerk by Geba in Benjamin en by Mispa.

23. Die ander gebeurtenisse tydens Asa se regering, al sy dapper dade, alles wat hy gedoen het, en die stede wat hy gebou het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda. In sy ouderdom het hy egter ’n siekte aan sy voete opgedoen.

24. Toe Asa sterf, is hy in die familiegraf in die Dawidstad begrawe. Sy seun Josafat het hom as koning opgevolg.

25. Nadab seun van Jerobeam het in die tweede regeringsjaar van koning Asa in Juda koning oor Israel geword. Hy het twee jaar oor Israel regeer.

26. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het die voorbeeld van sy pa gevolg en Israel dieselfde sonde laat doen.

27. Baesa seun van Agija uit die stam Issaskar, het saamgesweer teen Nadab en hom vermoor terwyl hy en die leër van Israel die Filistynse dorp Gibbeton beleër het.

28. Baesa het hom in die derde regeringsjaar van koning Asa van Juda vermoor en het koning van Israel geword.

29. Hy het onmiddellik al die nasate van koning Jerobeam uitgemoor. Nie een van die koninklike familie het oorgebly nie. Dit was presies wat die Here deur die profeet Agija uit Silo oor Jerobeam gesê het.

30. Dit het gebeur omdat Jerobeam die Here die God van Israel uitgetart het met die sondes wat hy gedoen het en daardeur Israel ook laat sondig het.

31. Die ander gebeurtenisse tydens Nadab se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 15