Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 14:21-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. Intussen het Rehabeam oor Juda regeer. Hy was 41 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was sewentien jaar lank koning in Jerusalem, die stad wat die Here uit al die stamme van Israel gekies het as die plek waar sy Naam vereer moet word. Rehabeam se ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou.

22. Gedurende die regering van Rehabeam het die Judeërs gedoen wat verkeerd was vir die Here. Met hulle sondes het hulle die Here meer getart as wat hulle voorouers gedoen het.

23. Hulle het op elke hoë heuwel en onder elke groen boom hoogtes gebou en klippilare en pale gewy aan Asjera opgerig.

24. Daar was ook manlike tempelprostitute in die land. Die Judeërs het dieselfde afskuwelike praktyke beoefen as die heidennasies wat die Here ter wille van die Israeliete uit die land verdryf het.

25. In die vyfde regeringsjaar van koning Rehabeam het koning Sisak van Egipte gekom en Jerusalem aangeval.

26. Hy het die tempel van die Here en die koninklike paleis geplunder. Hy het alles gevat, selfs die goue skilde wat Salomo laat maak het.

27. Daarna het Rehabeam skilde van brons gemaak om dit te vervang, en het dit in die sorg van die hoof van die lyfwagte by die ingang van die paleis geplaas.

28. Elke keer wanneer die koning na die tempel van die Here gegaan het, het die wagte die skilde saamgedra en dit daarna weer in die wagte se kamer gebêre.

29. Die ander gebeurtenisse tydens Rehabeam se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda.

30. Daar was voortdurend oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam.

31. Toe Rehabeam sterf, is hy in die familiegraf in die Dawidstad begrawe. Sy ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou. Sy seun Abia het hom as koning opgevolg.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 14