Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 14:17-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Jerobeam se vrou het na Tirsa toe teruggegaan. Toe sy oor die paleis se drumpel stap, het die kind gesterf.

18. Hulle het hom begrawe en die hele Israel het oor hom gerou soos die Here deur Agija die profeet gesê het.

19. Die ander gebeurtenisse tydens Jerobeam se regering, al sy oorloë en hoe hy regeer het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

20. Jerobeam het twintig jaar lank in Israel regeer. Toe Jerobeam later sterf, het sy seun Nadab hom as koning opgevolg.

21. Intussen het Rehabeam oor Juda regeer. Hy was 41 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was sewentien jaar lank koning in Jerusalem, die stad wat die Here uit al die stamme van Israel gekies het as die plek waar sy Naam vereer moet word. Rehabeam se ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou.

22. Gedurende die regering van Rehabeam het die Judeërs gedoen wat verkeerd was vir die Here. Met hulle sondes het hulle die Here meer getart as wat hulle voorouers gedoen het.

23. Hulle het op elke hoë heuwel en onder elke groen boom hoogtes gebou en klippilare en pale gewy aan Asjera opgerig.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 14