Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 14:10-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. sal Ek rampe oor jou koningshuis laat kom. Ek sal elke manlike uit die nageslag van Jerobeam uitroei uit Israel, of dit slawe of vry mense is. Ek sal jou koningshuis verbrand soos ’n mens rommel verbrand totdat daar niks oor is nie.

11. Die honde sal elkeen wat aan Jerobeam behoort en wat in die stad sterf, opvreet, en dié wat in die veld sterf, sal die roofvoëls verslind. Dit sal gebeur, want die Here het dit gesê.’

12. “Jy kan nou maar huis toe gaan. Wanneer jy die stad binnekom, sal die kind sterf.

13. Die hele Israel sal oor hom rou en hom begrawe. Hy is die enigste van die familie van Jerobeam wat begrawe sal word, want hierdie kind is die enigste een in die familie van Jerobeam in wie die Here, die God van Israel, iets goeds gekry het.

14. Die Here sal vir Hom ’n koning oor Israel aanstel wat die hele familie van Jerobeam sal uitwis. Dit sal binnekort, sonder versuim, gebeur!

15. Dan sal die Here Israel tref soos vloedwater ’n riet tref. Hy sal die mense van Israel uitruk uit hierdie goeie land wat Hy vir hulle voorouers gegee het en hulle verstrooi tot anderkant die Eufraatrivier, want hulle het die Here uitgetart met pale wat aan Asjera gewy was.

16. Hy sal Israel prysgee oor die sonde van Jerobeam, en omdat hy die hele Israel laat sondig het.”

17. Jerobeam se vrou het na Tirsa toe teruggegaan. Toe sy oor die paleis se drumpel stap, het die kind gesterf.

18. Hulle het hom begrawe en die hele Israel het oor hom gerou soos die Here deur Agija die profeet gesê het.

19. Die ander gebeurtenisse tydens Jerobeam se regering, al sy oorloë en hoe hy regeer het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

20. Jerobeam het twintig jaar lank in Israel regeer. Toe Jerobeam later sterf, het sy seun Nadab hom as koning opgevolg.

21. Intussen het Rehabeam oor Juda regeer. Hy was 41 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was sewentien jaar lank koning in Jerusalem, die stad wat die Here uit al die stamme van Israel gekies het as die plek waar sy Naam vereer moet word. Rehabeam se ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou.

22. Gedurende die regering van Rehabeam het die Judeërs gedoen wat verkeerd was vir die Here. Met hulle sondes het hulle die Here meer getart as wat hulle voorouers gedoen het.

23. Hulle het op elke hoë heuwel en onder elke groen boom hoogtes gebou en klippilare en pale gewy aan Asjera opgerig.

24. Daar was ook manlike tempelprostitute in die land. Die Judeërs het dieselfde afskuwelike praktyke beoefen as die heidennasies wat die Here ter wille van die Israeliete uit die land verdryf het.

25. In die vyfde regeringsjaar van koning Rehabeam het koning Sisak van Egipte gekom en Jerusalem aangeval.

26. Hy het die tempel van die Here en die koninklike paleis geplunder. Hy het alles gevat, selfs die goue skilde wat Salomo laat maak het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 14