Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 10:14-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Salomo se inkomste was jaarliks ongeveer 23 ton goud.

15. Dit is afgesien van die inkomste wat hy van reisigers en handelaars, al die konings van Arabië en die streeksbestuurders in Israel ontvang het.

16. Koning Salomo het 200 groot skilde van bladgoud gemaak. Hy het ongeveer sewe kilogram goud vir elke skild gebruik.

17. Hy het ook 300 klein skilde van bladgoud gemaak en ongeveer twee kilogram goud vir elkeen gebruik. Die koning het hierdie skilde in die Libanonsbosgebou geplaas.

18. Die koning het ook ’n groot troon van ivoor gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.

19. Die troon het ses trappies gehad en die kopstuk agter was rond. Aan albei kante van die troon was daar armleunings met ’n beeld van ’n leeu langsaan.

20. Twaalf beelde van leeus het op die ses trappies gestaan, een aan weerskante van ’n trappie. Daar was geen gelyke hiervan in enige ander koninkryk nie.

21. Koning Salomo se drinkbekers was van goud. So ook al die gebruiksartikels in die Libanonsbosgebou. Niks is van silwer gemaak nie omdat dit in Salomo se tyd geen waarde gehad het nie.

22. Die koning het ’n Tarsisvloot gehad wat saam met dié van Hiram uitgevaar het. Elke drie jaar het hierdie Tarsisvloot teruggekeer, belaai met goud, silwer, ivoor, ape en bobbejane.

23. Koning Salomo het al die konings op aarde oortref in rykdom en wysheid.

24. Mense oor die hele wêreld wou hom besoek om die wysheid te hoor wat God vir hom gegee het.

25. Elkeen wat hom besoek het, het vir hom geskenke van silwer en goud, klere, wapens, speserye, perde en muile saamgebring. Dit het jaar na jaar gebeur.

26. Salomo het ’n groot mag van strydwaens en ruiters opgebou. Hy het 1 400 strydwaens gehad en 12 000 perderuiters. Hy het hulle in die strydwastede geplaas en sommige by die koning in Jerusalem.

27. Silwer was so volop soos klippe in Jerusalem en sederhout was so algemeen soos wildevye in die Laeveld van Juda.

28. Sy perde het hy uit Egipte en Kewé ingevoer. Die koninklike handelaars het hulle daar teen ’n bepaalde prys aangekoop.

29. Egiptiese strydwaens het sewe kilogram silwer elk gekos en ’n perd sowat een en ’n driekwart kilogram silwer. ’n Perd is teen dieselfde prys aan die konings van die Hetiete en die konings van Aram verkoop. Die transaksies is deur middel van die handelaars gedoen.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 10