Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 1:5-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. In hierdie tyd het Dawid se seun Adonia, wie se ma Gaggit was, homself begin verbeel: “Ek gaan een van die dae die koning wees.” Hy het ’n strydwa en ruiters aangeskaf, asook 50 man wat voor hom uit gehardloop het.

6. Sy pa, koning Dawid, het hom van kleins af nooit gedissiplineer of selfs vir hom gevra: “Wat doen jy nou?” nie. Adonia was die tweede oudste seun ná Absalom. Hy was baie aantreklik.

7. Hy het Joab seun van Seruja, en Abjatar die priester in sy vertroue geneem. Hulle het ingestem om hom te steun.

8. Maar Sadok die priester, Benaja seun van Jojada, Natan die profeet, Simeï, Reï en Dawid se persoonlike lyfwag het nie vir Adonia gesteun nie.

9. Adonia het na die Sogeletrots by die Rogelfontein gegaan en daar skape, beeste en vetgemaakte kalwers geoffer. Hy het al sy broers, die ander seuns van Dawid, uitgenooi, en ook al die manskappe van Juda in Dawid se diens.

10. Maar hy het nie die profeet Natan, die koning se lyfwag Benaja, of sy broer Salomo genooi nie.

11. Natan gaan toe na Salomo se ma Batseba toe en vra haar: “Het jy geweet Gaggit se seun Adonia het homself tot koning uitgeroep sonder dat ons heer Dawid dit weet?

12. As jy jou en jou seun Salomo se lewe wil red, moet jy nou maak soos ek sê.

13. Gaan dadelik na koning Dawid toe en sê vir hom: ‘My heer, het u dan nie vir my met ’n eed belowe dat my seun Salomo ná u koning sal wees en op u troon sal sit nie? Hoekom het Adonia dan nou koning geword?’

14. Terwyl jy nog met hom praat, sal ek kom en alles bevestig wat jy sê.”

15. Batseba het toe in die koning se slaapkamer ingegaan. Hy was teen hierdie tyd reeds baie oud. Abisag, die Sunemmitiese meisie, het hom versorg.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 1