Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 15:15-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Ek was vrymoedig genoeg om sekere punte te beklemtoon alhoewel ek besef het dat dit eintlik net nodig was om julle geheue op te skerp. Ek het dit gedoen as iemand wat deur God se genade

16. ’n evangeliedienaar van Christus Jesus onder die nie-Joodse nasies is. Soos ’n priester in die heiligdom bedien ek die Goeie Nuus aan julle, en so word julle ’n offer aan God met ’n lieflike geur, ’n offer wat Hy verwelkom en wat deur die Heilige Gees aan Hom gewy is.

17. Deur Christus Jesus is dit my trots dat ek hierdie offer vir God mag aanbied.

18. Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as wat Christus deur my gedoen het om die nie-Joodse nasies tot gehoorsaamheid aan die evangelie te bring nie. Hy het dit gedoen deur my prediking en my voorbeeld,

19. deur kragtige tekens en wonders – bewerk deur die krag van die Gees van God. Op hierdie manier het ek die Goeie Nuus aangaande Christus uitgedra vanaf Jerusalem en tot by Illirikum.

20. Dit was egter vir my ’n saak van eer om die Goeie Nuus net te bring waar Christus se Naam nog nie vermeld is nie – eerder as om voort te bou op die fondament wat iemand anders reeds gelê het.

21. Ek het die riglyn van die Skrif gevolg:“Dié vir wie nog nooit van Hom vertel is nie, sal sien;en dié wat nog nooit van Hom gehoor het nie, sal verstaan.”

22. Om die waarheid te sê, juis dít is die rede waarom my besoek aan julle so herhaaldelik vertraag is.

23. Maar noudat ek my werk in hierdie gebiede voltooi het, en na al die baie jare wat ek gretig daarna uitgesien het om julle te besoek, wil ek dit doen

24. terwyl ek na Spanje onderweg is. Ek hoop om julle op my deurreis na Spanje te sien. Nadat ek my eers vir ’n tydjie aan die samesyn met julle verlustig het, kan julle my dan verder na Spanje toe stuur.

25. Maar voor my koms na julle toe, moet ek nou eers Jerusalem toe om ’n geskenk aan die gelowiges daar te gaan aflewer.

26. Julle sien, die gelowiges in Griekeland het op die goeie gedagte gekom om geld in te samel vir die armes onder die gelowiges in Jerusalem.

27. Hulle het dit gedoen onder die besef dat hulle so baie aan daardie gelowiges verskuldig is. Omdat die Joodse gelowiges bereid was om soveel geestelike seëninge met die nie-Joodse nasies te deel, is die minste wat hulle kan doen om die Joodse gelowiges met materiële dinge te help.

28. As ek dit dan afgehandel het en alles rondom hierdie insameling veilig afgerond het, wil ek by julle langs na Spanje toe reis.

Lees volledige hoofstuk Romeine 15