Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 11:4-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. En onthou julle God se antwoord? Sy woorde was: “Jy is nie die enigste een wat oorbly nie. Ek het vir My 7 000 ander mense laat oorbly wat nog nooit voor Baäl gekniel het nie.”

5. So is dit ook vandag nog. Daar het ’n klein groepie oorgebly wat God in sy genade uitverkies het.

6. En as dit uit genade is, dan was dit sekerlik nie op grond van hulle goeie dade nie – anders sou die genade nie meer werklik genade wees, dit wil sê dit wat ons teen alle verdienste in van God ontvang nie.

7. Dit alles kom daarop neer dat Israel nie die vryspraak gekry het waarna hulle deur nakoming van die wet gesoek het nie. Die klein groepie wat God vir Hom laat oorbly het, het dit egter wel gekry. Die meerderheid is egter innerlik verhard.

8. Soos die Skrif tereg sê:“God het ’n innerlike verdwasingoor hulle laat kom:hulle oë sien nie wat hullebehoort te sien nie; hulle ore hoor nie wat hulle behoort te hoor nie.So is dit tot vandag toe.”

9. En Dawid het hieroor die volgende gesê:“Mag hulle feesmaaltye vir hulle’n gevaarlike valstrik word,’n struikelblok en ’n straf.

10. Laat hulle oë verblind word,sodat hulle nie kan sien nieen hulle rûe deurentyd kromtrek.”

11. Ek sou verder kon vra: Israel se struikeling beteken tog seker nie dat hulle tot ’n finale val gekom het nie? Sekerlik nie! God se plan was om deur Israel se val die verlossing vir die nie-Joodse nasies beskikbaar te maak sodat hulle weer op hulle beurt vir Israel jaloers kan maak.

12. As die wêreld dan deur die val van die Jode verryk is en die nie-Joodse nasies ryk gemaak is deurdat Israel tot ’n oorblyfsel gereduseer is, dink net wat sal gebeur as die meerderheid Jode die Goeie Nuus sou aanneem!

13. Ek sê al hierdie dinge veral vir dié van julle wat uit die nie-Joodse nasies afkomstig is. As apostel onder die nie-Joodse nasies gee ek my allerbeste vir my bediening

14. in die hoop dat ek my eie mense jaloers sal maak en sommige van hulle verlos sal word.

15. Want as die Jode se verwerping meegebring het dat God vir die hele wêreld die herstel van hulle verhouding met Hom aanbied, hoeveel wonderliker sal die Jode se aanneming nie wees nie! Dit sal niks minder nie as lewe uit die dood beteken!

16. As die eerste stukkie deeg aan God geoffer word, beteken dit dat die hele baksel eintlik aan Hom behoort. Net so, as die wortels van die boom aan God gewy is, sal die takke ook aan Hom behoort.

17. Party van die takke van hierdie boom – van die Joodse takke – is uitgekap en jy, die wilde olyf, is op die mak boom geënt. So deel jy ook nou in die lewensap wat van die mak olyf se onderstam af opstoot.

18. Maar oppas om jou bors hieroor uit te stoot. Dit is immers nie jy wat die onderstam dra nie, maar juis andersom.

Lees volledige hoofstuk Romeine 11