Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 11:10-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Laat hulle oë verblind word,sodat hulle nie kan sien nieen hulle rûe deurentyd kromtrek.”

11. Ek sou verder kon vra: Israel se struikeling beteken tog seker nie dat hulle tot ’n finale val gekom het nie? Sekerlik nie! God se plan was om deur Israel se val die verlossing vir die nie-Joodse nasies beskikbaar te maak sodat hulle weer op hulle beurt vir Israel jaloers kan maak.

12. As die wêreld dan deur die val van die Jode verryk is en die nie-Joodse nasies ryk gemaak is deurdat Israel tot ’n oorblyfsel gereduseer is, dink net wat sal gebeur as die meerderheid Jode die Goeie Nuus sou aanneem!

13. Ek sê al hierdie dinge veral vir dié van julle wat uit die nie-Joodse nasies afkomstig is. As apostel onder die nie-Joodse nasies gee ek my allerbeste vir my bediening

14. in die hoop dat ek my eie mense jaloers sal maak en sommige van hulle verlos sal word.

15. Want as die Jode se verwerping meegebring het dat God vir die hele wêreld die herstel van hulle verhouding met Hom aanbied, hoeveel wonderliker sal die Jode se aanneming nie wees nie! Dit sal niks minder nie as lewe uit die dood beteken!

16. As die eerste stukkie deeg aan God geoffer word, beteken dit dat die hele baksel eintlik aan Hom behoort. Net so, as die wortels van die boom aan God gewy is, sal die takke ook aan Hom behoort.

17. Party van die takke van hierdie boom – van die Joodse takke – is uitgekap en jy, die wilde olyf, is op die mak boom geënt. So deel jy ook nou in die lewensap wat van die mak olyf se onderstam af opstoot.

18. Maar oppas om jou bors hieroor uit te stoot. Dit is immers nie jy wat die onderstam dra nie, maar juis andersom.

19. Jy kan dalk sê: “Die takke is uitgekap sodat ek geënt kan word.”

20. Toegegee – hulle is egter as gevolg van hulle ongeloof uitgekap terwyl jy nou daar is omdat jy glo. Moenie dink jy is wonderlik nie, maar wees liewer baie klein voor God.

21. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, kan Hy jou dalk ook nie spaar nie.

22. Neem in ag dat God vol goedheid, maar terselfdertyd ook streng is. Hy is streng teenoor hulle wat van Hom weggedwaal het, maar vol goedheid teenoor jou – mits jy op sy goedheid bly staatmaak. Anders kan jy ook afgesny word.

23. En as die Jode nie volhard in hulle ongeloof nie, sal God hulle weer op die olyfboom terug-ent. Hy besit die mag om dit te kan doen.

Lees volledige hoofstuk Romeine 11