Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 2:11-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.Elkeen wat aanhou oorwin, sal nié deur die tweede dood getref word nie.

12. Skryf aan die voorganger van die gemeente in Pergamum: So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het:

13. Ek weet goed waar jy woon, waar die troon van Satan is. Tog het jy lojaal aan My gebly en nie die vertroue in My afgesweer nie, veral gedurende die tyd toe Antipas, my betroubare getuie daar by julle waar Satan woon, doodgemaak is.

14. Maar Ek het ’n paar klagtes teen jou: Jy verdra mense in jou midde wat die leer van Bileam aanhang. Dit is hy wat Balak beïnvloed het om ’n struikelblok in die pad van die Israeliete te plaas, naamlik om te eet van die afgodsoffervleis en om seksuele sondes te pleeg.

15. Net so is daar in jou geledere ook aanhangers van die leer van die Nikolaïete wat ook só optree.

16. Kom dan tot inkeer; anders kom Ek baie gou na jou toe en sal Ek teen hulle oorlog maak met die skerp swaard van my mond.

17. Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.Aan elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek van die weggesteekte manna gee, asook ’n wit steentjie met ’n nuwe naam op gegraveer wat niemand anders ken nie behalwe die een wat dit ontvang het.

18. Skryf aan die voorganger van die gemeente in Tiatira: So sê die Seun van God; Hy het oë soos ’n vuurvlam en sy voete is net soos gepoleerde koper:

19. Ek ken jou handel en wandel, ook jou liefde, vertroue, bediening en volharding. Ek weet ook dat jou handel en wandel nou selfs nog beter is as voorheen.

20. Maar Ek het hierdie klag teen jou: dat jy die vrou Isebel laat begaan. Sy noem haarself ’n profetes. Sy onderrig en verlei my diensknegte om seksuele sondes te doen en om afgodsoffervleis te eet.

21. Ek het haar ’n bepaalde tyd gegun om tot inkeer te kom, maar sy weier om haar te bekeer van haar seksuele sondes.

22. Kyk, Ek pen haar op ’n siekbed vas, en die mense wat saam met haar aan seksuele wanpraktyke deelneem, gee Ek oor aan hewige swaarkry as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie.

23. Ek sal haar kinders doodmaak en al die gemeentes sal kennis neem dat dit Ek is wat gedagtes en bedoelings deursoek. Ek sal ook aan julle elkeen gee wat julle volgens julle handel en wandel verdien.

24. Vir julle ander in Tiatira wat nie deel het aan daardie leer nie en nie van die diepere dinge van Satan, soos hulle dit noem, ’n studie gemaak het nie, sê Ek: Ek lê op julle geen ander verantwoordelikheid nie,

25. behalwe om vas te hou aan wat julle het totdat Ek kom.

26. Aan die een wat aanhou oorwin en enduit my werke praktyk maak, sal Ek bevoegdheid gee oor die nasies.

27. Hy sal die nasies met ’n ysterstaf beheeren hulle soos kleipotte stukkend breek.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 2