Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 18:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Hierna het ek ’n ander engel uit die hemel sien afkom. Hy het oor groot mag beskik en die aarde is deur sy glans verlig.

2. Hy het met ’n kragtige stem uitgeroep: “Geval, geval het die grote Babilon! Dit het die wegkruipplek geword van die bose geeste, ’n skuilplek van elke onrein gees, ’n nes van elke onrein roofvoël en van haatlike diere.

3. Al die nasies het dronk geword van die dwelmdrank van haar seksuele wanpraktyke. Die konings van die aarde het ongeoorloofde seksuele verhoudings met haar gehad, en die handelaars van die aarde het ryk geword uit haar grenslose weelde.”

4. Toe het ek ’n ander stem uit die hemel hoor sê: “Verlaat haar, my volk, sodat julle nie deel het aan haar sondes en haar plae julle nie ook tref nie.

5. Haar sondes het so hoog soos die hemel opgehoop en God het haar wandade onthou.

6. Gee aan haar terug wat sy uitgedeel het, en gee aan haar dubbel soveel as wat sy aan julle gedoen het. In die beker waarin sy vervolging vir julle gemeng het, moet julle twee keer soveel inskink.

7. In dieselfde mate waarin sy haarself verheerlik en weelderig geleef het, moet julle haar ook pyn en smart aandoen. In haar hart spog sy: ‘Ek sit as ’n koningin op my troon. Ek is nie ’n weduwee nie; smart sal ek nooit ken nie.’

8. Daarom sal al haar plae haar op een dag oorweldig: dodelike siekte, smart en hongersnood. Sy sal deur vuur verteer word, want krágtig is die Here God wat haar oordeel.”

Lees volledige hoofstuk Openbaring 18