Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 14:13-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Ek het ook ’n stem van die hemel af hoor sê: “Skryf dit op! Geseënd is die dooies wat van nou af in die Here sterf.”“Ja,” sê die Gees, “hulle sal rus van hulle harde werk, want wat hulle gedoen het, vergesel hulle.”

14. En kyk, ek het ’n wit wolk gesien. Op die wolk het Iemand soos die Seun van die Mens gesit. Hy het ’n goue kroon op sy kop gehad en ’n skerp sekel in sy hand.

15. ’n Ander engel het uit die tempel te voorskyn gekom en met ’n kragtige stem geroep na Hom wat op die wolk sit: “Steek u sekel in en oes, want die uur het aangebreek om te oes. Die oes van die aarde is ryp.”

16. Hy wat op die wolk sit, het toe sy sekel op die aarde ingesteek en die oes ingesamel.

17. Toe het ’n ander engel uit die rigting van die tempel in die hemel gekom terwyl hy ook ’n skerp sekel vashou.

18. Nog ’n ander engel het uit die rigting van die altaar gekom. Hy het mag oor die vuur gehad en met ’n kragtige stem geroep na hom wat die skerp sekel vashou en aan hom gesê: “Steek jou skerp sekel in en sny die druiwetrosse van die wingerd op die aarde af, want sy druiwe het ryp geword.”

19. Die engel het toe sy sekel op die aarde ingesteek en die wingerd geoes, en dit in die druiwepers van God se toorn gegooi.

20. Die druiwepers wat buitekant die stad geleë is, is getrap. Uit die druiwepers het daar bloed gestroom wat tot aan die tooms van die perde geraak en 300 kilometer ver gevloei het.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 14