Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 9:16-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Niemand sal tog ’n ou kledingstuk met ’n stuk nuwe, ongekrimpte materiaal lap nie. Die nuwe materiaal gaan immers krimp en losskeur en ’n nog groter gat agterlaat.

17. Net so min gooi ’n mens nuwe wyn in ou leersakke. Doen jy dit tog, sal die sakke skeur en die wyn uitloop. Dan is die sakke ook nog daarmee heen. Nee, ’n mens gooi nuwe wyn in nuwe leersakke; dan hou al twee goed.”

18. Jesus was nog besig om met hulle te praat toe daar ’n vername Joodse leier na Hom toe kom en voor Hom neerval met die woorde: “My dogter is nou net dood. Kom tog en sit u hand op haar en sy sal weer lewe.”

19. Jesus het opgestaan en saam met sy dissipels agter die man aan gegaan.

20. Onderweg het ’n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, van agter af na Jesus toe gekom en aan die soom van sy bo-kleed geraak,

21. want sy het by haarself gedink: “Al kan ek tog maar net aan sy bo-kleed raak, sal ek gesond word.”

22. Toe Jesus omdraai en haar sien, het Hy vir haar gesê: “Skep moed, my dogter. Omdat jy so vas geglo het, is jy nou gesond.” En die vrou was van daardie oomblik af heeltemal genees.

23. Toe Jesus by die vername man se huis aankom, kry Hy daar mense wat begrafnismusiek maak en ’n hele klomp wat kerm en huil.

24. Daarop sê Hy vir hulle: “Gaan buitentoe; die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap net.” Maar hulle het Hom uitgelag.

25. Nadat die klomp buitentoe gejaag is, het Jesus in die dogtertjie se kamer gegaan, haar hand gevat, en sy het opgestaan.

Lees volledige hoofstuk Matteus 9