Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 5:25-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

25. “Sorg dat jy baie gou op goeie voet met jou teenstander kom; anders gaan daardie persoon jou aan die regter oorhandig, en die regter oorhandig jou aan die hofbeampte en jy word in die tronk gegooi.

26. “Ek verseker jou, jy gaan beslis nie daar uitkom voordat jy elke sent afbetaal het nie.”

27. “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’

28. Maar Ek sê vir julle, elke man wat met ’n wellustige oog na ’n ander vrou kyk, het al klaar in sy hart egbreuk gepleeg.

29. En as jou regteroog jou laat struikel, pluk dit liewer uit en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter dat een van jou liggaamsdele tot niet gaan as dat jou hele liggaam in die hel eindig.

30. Net so, as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om net een van jou liggaamsdele te verloor as dat jou hele liggaam in die hel eindig.”

31. “Daar is gesê: ‘Al wat ’n man nodig het om van sy vrou te skei is om aan haar ’n skeisertifikaat te oorhandig.’

32. Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor huweliksontrou, veroorsaak dat sy egbreuk pleeg. En elkeen wat met so ’n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 5