Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 5:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Toe Jesus die groot skare mense bymekaar sien, het Hy teen die berg uitgeklim. Toe Hy gaan sit, kom sy dissipels na Hom toe.

2. Hy het begin om hulle soos volg te onderrig:

3. “Gelukkig is dié mense wat weet hoe nodig hulle God het, want die koninkryk van die hemele is húlle deel.

4. Gelukkig is die treurendes,want God sal self hulle trane afvee.

5. Gelukkig is dié wat sag van hart is,want die nuwe aarde sal hulle erfporsie wees.

6. Gelukkig is dié wat honger en dors na wat voor God reg is,want Hy sal hulle hartsverlange bevredig.

7. Gelukkig is dié wat met ontferming uitreik na mense in nood, want God sal Hom oor húlle ontferm.

8. Gelukkig is dié wie se hartevolkome op God gerig is, want hulle sal vir God sien.

9. Gelukkig is die vredemakers, want God sal vir hulle sê: ‘Julle is mý kinders.’

10. Gelukkig is dié wat vervolg wordter wille van wat voor God reg is, want die koninkryk van die hemele is húlle deel.

11. “Gelukkig is julle wanneer julle bespot en vervolg word en allerhande leuens oor julle versprei word omdat julle my dissipels is.

12. Wees bly, ja, jubel daaroor, want God sal julle ryklik daarvoor beloon. Onthou, so het hulle die profete voor julle ook vervolg.”

13. “Julle is die sout wat die aarde ’n beter plek moet maak. Maar as die sout verslaan het, kry jy dit op geen manier weer sout nie. Dit is totaal onbruikbaar. Al waarvoor dit goed is, is om buite op die straat uitgegooi en deur die mense platgetrap te word.

14. Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie!

15. ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit onder ’n emmer toe nie. Inteendeel! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis.

16. Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys!”

Lees volledige hoofstuk Matteus 5