Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 24:8-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Maar dit alles sal nog maar net die begin van die swaarkry wees.

9. “Dan sal hulle julle arresteer, vervolg en doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle mý mense is.

10. “In daardie tyd sal baie mense hulle geloof afsweer en mekaar uitlewer en haat.

11. Daar sal ook talle vals profete verskyn en hulle sal baie mense op ’n dwaalspoor bring.

12. Die sonde sal so toeneem dat baie se liefde sal afkoel.

13. Maar elkeen wat enduit volhard, sal verlos word.

14. “Hierdie Goeie Nuus van God se koningsheerskappy sal eers in die hele wêreld, aan al die nasies, verkondig word voordat die einde kom.”

15. “Die tyd kom wanneer julle die afskuwelike voorwerp wat verontheiliging veroorsaak en waarvan die profeet Daniël gepraat het, in die tempel sal sien staan” – my leser, gee nou spesiale aandag! –

16. “dan moet die mense van Judea na die heuwels toe vlug.

17. As jy op jou dakstoep sit, moet jy nie eers in die huis ingaan om in te pak nie.

18. As jy buite op die land is, moet jy nie eers omdraai om jou bo-kleed te gryp nie.

19. Hoe erg sal dit nie in daardie tyd wees vir vroue wat verwag of wat nog borsvoed nie!

20. En bid dat dit nie vir julle nodig sal wees om in die winter of op die Sabbat te vlug nie.

21. Dit sal ’n tyd van groot verdrukking wees, erger as enigiets wat die wêreld ooit tevore beleef het of hierna sal beleef.

22. Om die waarheid te sê, as God nie ingryp en daardie tyd van swaarkry verkort nie, sal niemand dit oorleef nie. Maar ter wille van sy uitverkore mense sal dit wel verkort word.”

23. “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hiér is die Messias,’ of: ‘Dáár is Hy,’ moenie dit glo nie.

24. Want daar sal baie vals messiasse en profete na vore kom. Hulle sal indrukwekkende tekens en wonders doen om, as dit moontlik sou wees, selfs God se uitverkorenes te probeer mislei.

25. Let goed op, Ek het julle vooraf gewaarsku.

Lees volledige hoofstuk Matteus 24