Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 24:19-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. Hoe erg sal dit nie in daardie tyd wees vir vroue wat verwag of wat nog borsvoed nie!

20. En bid dat dit nie vir julle nodig sal wees om in die winter of op die Sabbat te vlug nie.

21. Dit sal ’n tyd van groot verdrukking wees, erger as enigiets wat die wêreld ooit tevore beleef het of hierna sal beleef.

22. Om die waarheid te sê, as God nie ingryp en daardie tyd van swaarkry verkort nie, sal niemand dit oorleef nie. Maar ter wille van sy uitverkore mense sal dit wel verkort word.”

23. “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hiér is die Messias,’ of: ‘Dáár is Hy,’ moenie dit glo nie.

24. Want daar sal baie vals messiasse en profete na vore kom. Hulle sal indrukwekkende tekens en wonders doen om, as dit moontlik sou wees, selfs God se uitverkorenes te probeer mislei.

25. Let goed op, Ek het julle vooraf gewaarsku.

26. As mense dan vir julle sou sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn,’ moenie gaan kyk nie. Of as hulle sou sê: ‘Kyk, Hy kruip in ’n geheime plek weg,’ moet hulle nie glo nie.

27. Want soos die weerlig in die ooste uitslaan en sy lig tot in die weste laat skyn, so sal dit ook wees wanneer Ek, die Seun van die Mens, kom.

28. Net soos ’n versameling aasvoëls die teenwoordigheid van ’n karkas aandui, so sal hierdie tekens wys dat die einde naby is.”

29. “Onmiddellik na hierdie tyd van swaarkry‘sal die son donker word,en die maan nie meer lig gee nie.Die sterre sal van die hemel valen die kragtewat die hemelruim saambind, sal geskud word.’

30. “Dan uiteindelik sal daar ’n teken teen die hemel verskyn om aan te dui dat Ek, die Seun van die Mens, aan die kom is. Daarop sal al die nasies van die aarde geskok en ontsteld wees. Hulle sal My, die Seun van die Mens, met krag en groot heerlikheid op die wolke van die hemel sien kom.

31. Ek sal my engele met die magtige klank van ’n basuin uitstuur en hulle sal my uitverkorenes uit al vier windstreke bymekaarmaak, ja, selfs vanaf die verste uithoeke van die wêreld.”

32. “Leer van die vyeboom hierdie les. Wanneer sy lote reeds begin sag word en sy blare begin stoot, besef julle dat die somer op hande is.

33. Net so kan julle, wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, weet dat die einde op hande is.

Lees volledige hoofstuk Matteus 24