Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 23:16-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. “Ellende wag vir julle, julle blinde gidse wat beweer: ‘As iemand by die heiligdom sweer, het dit geen bindende krag nie, maar as hy by die goud van die tempel sweer, dan is dit bindend.’

17. Julle blinde dwase! Wat is die belangrikste, die goud of die tempel waardeur die goud geheilig word?

18. Verder sê julle: ‘As iemand by die altaar sweer, het dit geen bindende krag nie, maar as hy by die offer bo-op die altaar sweer, is dit bindend.’

19. Hoe blind kan julle tog wees! Wat is immers belangriker, die offer of die altaar waardeur die offer geheilig word?

20. Wanneer jy by die altaar sweer, sweer jy tog nie net daarby nie, maar ook by alles wat daarop is.

21. En wanneer jy by die tempel sweer, sweer jy tog nie net daarby nie, maar ook by Hom wat daarin woon.

22. Net so, wanneer jy sweer by die hemel, sweer jy ook by die troon van God en boonop by Hom wat op die troon sit.

23. “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle gee noukeurig tiendes van die nietigste deeltjies van julle inkomste, maar julle ignoreer die eintlik belangrike dinge waarom dit in die wet gaan: om te doen wat reg is, om ontferming te betoon en om mense van julle woord te wees. Julle behoort die tiendes te gee, maar die belangriker dinge mag julle ook nie nalaat nie.

24. Blinde gidse! Julle sif die muggie uit julle drinkwater, maar die kameel sluk julle sonder meer af!

25. “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle maak die buitekant van die beker en die skottel blinkskoon, maar aan die binnekant is julle vuil van grypsug en selfsug.

26. Blinde Fariseër, was die beker eers aan die binnekant, en die buitekant sal vanself skoon word.

27. “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle is soos grafte wat aan die buitekant spierwit gekalk is, maar aan die binnekant vol is van doodsbeendere en allerlei onreinheid.

28. So lyk julle ook van buite vir die mense baie vroom, maar van binne is julle vol skynheiligheid en minagting van die wet.

29. “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle rig grafstene op vir die profete en julle versier die gedenkstene van die vromes.

30. “Julle verklaar: ‘As ons in ons vaders se tyd gelewe het, sou ons nie by die moord op die profete betrokke gewees het nie.’

31. Daarmee wys julle die vinger na julleself, want julle erken ronduit dat julle die nageslag is van dié wat die profete vermoor het.

32. En júlle – maak julle dan maar die maat van julle voorouers vol!

33. Julle slange! Julle addernes! Hoe sal julle ooit die oordeel van die hel kan ontvlug?

34. Let op, Ek sal vir julle profete en wyses en skrifkenners stuur. Julle sal sommige van hulle vermoor en kruisig en julle sal ander in julle sinagoges met swepe slaan en van die een dorp na die ander vervolg.

Lees volledige hoofstuk Matteus 23