Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 2:7-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. “Wat? Dis tog laster! Net God kan sondes vergewe!”

8. Jesus het sonder meer geweet wat hulle dink en sê toe vir hulle: “Waarom dink julle dit is laster?

9. Wat is makliker – om vir die verlamde te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op, tel jou bed op en loop’?

10. Ek gaan nou vir julle bewys dat Ek, die Seun van die Mens, die gesag het om sondes op aarde te vergewe.” Daarop sê Jesus vir die verlamde man:

11. “Ek beveel jou, staan op, vat jou mat en gaan na jou huis toe!”

12. Net daar het die man opgespring, sy mat geneem en voor almal se oë buitentoe gegaan. Hulle was almal verstom en het God geprys en uitgeroep: “So iets het ons nog nooit tevore gesien nie!”

13. Jesus het toe weer na die strand toe gegaan. ’n Hele skare mense het na Hom toe gekom, en Hy was besig om hulle te onderrig.

14. Terwyl Hy aanstap, sien Hy vir Levi, die seun van Alfeus, by die tolhokkie sit en Hy sê vir hom: “Kom, word my dissipel.” Hy het opgestaan en ’n dissipel van Jesus geword.

15. Levi het Jesus en sy dissipels genooi om saam met sy medetollenaars en ander berugte sondaars by hom te kom eet. (Daar was baie van hierdie mense wat agter Jesus aan gekom het.)

16. Toe sommige van die skrifkenners uit die geledere van die Fariseërs sien dat Hy saam met sulke berugte sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gesê: “Hoe kan julle leermeester saam met sulke immorele karakters eet?”

17. Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Gesonde mense het die dokter nie nodig nie – die siekes wel. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars.”

18. Johannes se dissipels en die Fariseërs het gereeld gevas. Daar kom toe mense vir Jesus vra: “Waarom vas die dissipels van Johannes en die dissipels van die Fariseërs gereeld, maar jou dissipels vas nie?”

19. Jesus het hulle geantwoord: “Dis tog ondenkbaar dat die bruilofsgaste sal vas terwyl die bruidegom nog saam met hulle feesvier! Hulle kan nie vas solank hulle die bruidegom by hulle het nie.

20. Maar daar kom ’n tyd wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dán sal hulle vas.

Lees volledige hoofstuk Markus 2