Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 16:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die volgende aand, toe die Sabbat verby was, het Maria Magdalena en Maria, Jakobus se ma, en Salome aromatiese olie gaan koop om Jesus se liggaam daarmee te behandel.

2. Baie vroeg Sondagmôre, net toe die son opkom, kom hulle by die graf aan.

3. Op pad soontoe het hulle nog onder mekaar gewonder wie die klip voor die ingang van die graf vir hulle sou wegrol.

4. Maar toe hulle daar aankom en opkyk, sien hulle dat die klip – dit was ’n baie groot een – reeds weggerol was.

5. Hulle gaan toe in die graf in en daar op die regterkant sien hulle ’n jong man in wit klere sit. Hulle was heeltemal verskrik.

6. Hy sê toe vir hulle: “Moenie so skrik nie. Julle soek vir Jesus van Nasaret, die Een wat gekruisig is. Hy is nie hier nie. Hy is opgewek uit die dood! Kyk, hier is die plek waar hulle sy liggaam neergelê het.

7. Maar gaan sê julle vir sy dissipels, Petrus ingesluit: Hy gaan julle solank vooruit na Galilea toe. Julle sal Hom dáár sien soos Hy vir julle gesê het.”

8. Die vroue het toe van die graf af weggevlug, want hulle was vol vrees en ontsteltenis. Hulle het egter vir niemand iets gesê nie, want hulle was bang.Maar die vroue het hierdie opdragte kortliks aan Petrus en dié by hom vertel. Hierna het Jesus hulle self van die ooste tot die weste uitgestuur met die heilige en onfeilbare boodskap wat ewige verlossing skenk. Amen.

9. Dit was vroeg die Sondagmôre wat Jesus uit die dood opgestaan het. Hy het eerste verskyn aan Maria Magdalena, uit wie Hy sewe duiwels gedryf het.

10. Sy het dit toe gaan vertel aan die dissipels wat besig was om te rou en te huil.

11. Maar toe hulle hoor dat Hy lewe en dat sy Hom gesien het, wou hulle haar nie glo nie.

Lees volledige hoofstuk Markus 16