Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 15:3-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Die priesterhoofde het baie beskuldigings teen Jesus ingebring.

4. Pilatus het weer ’n vraag aan Hom gestel: “Antwoord jy dan niks nie? Wat van al hierdie beskuldigings teen jou?”

5. Maar tot Pilatus se verbasing het Jesus op geen enkele beskuldiging gereageer nie.

6. Die goewerneur was gewoond om elke jaar tydens Paasfees een gevangene vir die volk vry te laat – dié een waarvoor hulle gevra het.

7. Een van die destydse gevangenes was Barabbas. Hy was saam met ander veroordeel weens ’n moord wat hulle tydens ’n opstand gepleeg het.

8. Die skare het oproerig geword en van Pilatus begin eis om soos gewoonlik ’n gevangene vry te laat.

9. “Moet ek vir julle die Koning van die Jode vrylaat?” vra hy hulle toe –

10. hy het immers besef dat die priesterhoofde Jesus uit naywer laat arresteer het.

11. In hierdie stadium het die priesterhoofde die skare egter aangehits om te vra dat hy liewer Barabbas vir hulle moes vrylaat.

12. Pilatus het toe weer vir hulle gevra: “Maar as ek Barabbas vrylaat, wat moet ek dan doen met hierdie mens wat julle die Koning van die Jode noem?”

13. Hulle het teruggeskree: “Kruisig hom!”

14. “Hoekom dan?” het Pilatus by hulle aangedring. “Watter misdaad het hy gepleeg?”Maar die skare het al hoe harder geskree: “Kruisig hom!”

15. Omdat Pilatus die skare graag hulle sin wou gee, het hy toe vir Barabbas vrygelaat, maar vir Jesus het hy aan die soldate oorgegee om Hom met gésels te slaan en daarna te kruisig.

16. Die soldate het Jesus toe na hulle hoofkwartier gebring. Toe roep hulle die hele regiment bymekaar en

17. trek vir Hom ’n pers mantel aan. Hulle vleg toe ook ’n kroon van dorings en sit dit op sy kop.

18. Daarop begin hulle Hom salueer met die woorde: “Ons groet u, o Koning van die Jode!”

19. Hulle slaan Hom toe met ’n riet teen sy kop, spoeg op Hom en maak kniebuigings asof hulle eer aan Hom wil betoon.

20. Toe hulle moeg geword het om die spot met Hom te dryf, het hulle die pers mantel uitgetrek en Hom weer sy eie klere aangetrek. Toe vat hulle Hom weg om Hom te gaan kruisig.

Lees volledige hoofstuk Markus 15