Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 15:14-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. “Hoekom dan?” het Pilatus by hulle aangedring. “Watter misdaad het hy gepleeg?”Maar die skare het al hoe harder geskree: “Kruisig hom!”

15. Omdat Pilatus die skare graag hulle sin wou gee, het hy toe vir Barabbas vrygelaat, maar vir Jesus het hy aan die soldate oorgegee om Hom met gésels te slaan en daarna te kruisig.

16. Die soldate het Jesus toe na hulle hoofkwartier gebring. Toe roep hulle die hele regiment bymekaar en

17. trek vir Hom ’n pers mantel aan. Hulle vleg toe ook ’n kroon van dorings en sit dit op sy kop.

18. Daarop begin hulle Hom salueer met die woorde: “Ons groet u, o Koning van die Jode!”

19. Hulle slaan Hom toe met ’n riet teen sy kop, spoeg op Hom en maak kniebuigings asof hulle eer aan Hom wil betoon.

20. Toe hulle moeg geword het om die spot met Hom te dryf, het hulle die pers mantel uitgetrek en Hom weer sy eie klere aangetrek. Toe vat hulle Hom weg om Hom te gaan kruisig.

21. ’n Man met die naam Simon, wat van Sirene afkomstig was, kom toe juis van buite die stad af by hulle verby – hy was die pa van Aleksander en Rufus. Die soldate kommandeer hom toe op om Jesus se kruis te dra.

22. Toe bring hulle Hom na ’n plek met die naam Golgota – dit beteken Kopbeenplek.

23. Hulle wou Hom toe wyn wat met mirre gekruie was, gee om te drink, maar Hy wou dit nie neem nie.

24. Daarna het hulle Hom gekruisig. Hulle het sy klere verdeel deur met dobbelsteentjies daaroor te beslis.

25. Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het.

26. ’n Plakkaat bokant Jesus se kop het die rede vir sy veroordeling uitgespel: “Die Koning van die Jode.”

27. Saam met Hom het hulle ook twee kriminele gekruisig, een aan elke kant.

Lees volledige hoofstuk Markus 15