Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 14:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Dit was twee dae voor die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood. Die priesterhoofde en die skrifkenners was nog op soek na ’n geleentheid om Jesus in die geheim te vang en dood te maak.

2. Want hulle het saamgestem: “Nie in die openbaar terwyl die skares feesvier nie; anders ontstaan daar oproer onder die volk.”

3. Intussen was Jesus in Betanië by die huis van Simon, die man wat van ’n ernstige velsiekte genees is. Tydens die ete kom daar ’n vrou in met ’n albaste fles vol egte, baie duur aromatiese olie. Sy breek toe die seël van die fles en gooi die olie oor Jesus se kop uit.

4. Sommige van dié wat saam aan tafel was, was verontwaardig daaroor. “Hoekom hierdie verkwisting van duur olie?” het hulle gesê.

5. “Ons kon dit vir ’n yslike bedrag verkoop het en die geld vir die armes gegee het.” En hulle het haar uitgetrap.

6. Jesus het hulle egter geantwoord: “Laat haar met rus! Waarom maak julle dit vir haar so moeilik? Sy het ’n weldaad aan My gedoen.

7. Die armes sal julle altyd by julle hê, en julle kan enige tyd wanneer julle so voel, aan hulle goeddoen. Maar Ek sal nie meer lank by julle wees nie.

8. Sy het haar allerbeste vir My gedoen. Sy het my liggaam vooruit gesalf vir my begrafnis.

9. “Ek verseker julle, waar hierdie Goeie Nuus ook al oor die hele wêreld verkondig word, sal daar ook gepraat word van wat sy gedoen het, en so sal sy vir altyd onthou word!”

Lees volledige hoofstuk Markus 14