Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 12:26-44 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

26. En wat die kwessie van die opstanding van die dooies betref – het julle nie raakgelees wat daar in die boek van Moses staan, by die gedeelte oor die brandende doringbos nie? Lank nadat Abraham en Isak en Jakob reeds dood was, het God immers vir Moses gesê: ‘Ek is die God van Abraham en Isak en Jakob.’

27. Hy is duidelik die God van lewende mense, nie van dooies nie. Julle is dus totaal verkeerd.”

28. Een van die skrifkenners het nadergestaan en geluister na die argument. Beïndruk deur Jesus se goeie antwoord aan die Sadduseërs, vra hy Hom toe: “Watter gebod is die heel belangrikste?”

29. Jesus het hom geantwoord: “Die belangrikste gebod is die volgende: ‘Luister, o Israel, die Here ons God is die énigste Here.

30. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou ganse siel, met jou totale verstand en met al jou krag.’

31. Die tweede gebod is net so belangrik: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Hierdie twee vorm saam die allerbelangrikste opdrag.”

32. Die skrifkenner sê toe vir Hom: “Leermeester, u het dit pragtig gestel. U het tereg gesê dat daar net een God is.

33. En ek stem volkome saam dat ek Hom moet liefhê met my hele hart, met my volle denke en met al my krag, en my naaste soos myself. Dit is belangriker as al die brandoffers en ander offers.”

34. Beïndruk deur die man se insig het Jesus vir hom gesê: “Jy is inderdaad naby aan God se koninkryk!” Hierna het niemand Hom weer met ’n strikvraag in ’n hoek probeer dryf nie.

35. Later, toe Jesus besig was om die mense by die tempel te onderrig, het Hy die volgende vraag gestel: “Hoe is dit dan dat die skrifkenners beweer dat die Messias die seun van Dawid is?

36. Dawid het tog self deur die Heilige Gees gesê:‘Die Here het vir my Here gesê:Sit aan my regterhandtotdat Ek jou vyandeheeltemal aan jou onderwerp het.’

37. “Dawid noem Hom tog self Here. Hoe kan Hy terselfdertyd sy seun wees?” Die groot skare het dit geniet om na Hom te luister.

38. In sy onderrig het Jesus ook nog gesê: “Oppas vir die skrifkenners! Hulle hou daarvan om met swierige klere te paradeer en om op die dorpspleine begroet te word.

39. En hoe verlustig hulle hulle nie in die ereplekke in die sinagoges en by feesmaaltye nie!

40. Hulle beroof die weduwees skaamteloos van hulle huise en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal hulle ekstra swaar gestraf word.”

41. Jesus het regoor die offerkis gaan sit en gekyk hoe die skare hulle geld in die kis gooi. In die proses het baie welgesteldes groot bedrae geld ingegooi.

42. Toe kom daar ’n brandarm weduwee en sy gooi net twee klein geldstukkies in.

43. Daarop roep Jesus sy dissipels na Hom toe en sê vir hulle: “Weet vir seker, hierdie arm weduwee het meer in die offerkis gegooi as al die ander.

44. Julle sien, almal het ingegooi vanuit hulle oorvloed, maar sy het, arm soos sy is, alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

Lees volledige hoofstuk Markus 12