Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 12:18-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. Toe kom die Sadduseërs na Hom toe. Hulle is ’n groep Jode wat die opstanding uit die dood ontken. Hulle vra Hom toe die volgende:

19. “Leermeester, Moses het vir ons ’n wet gegee wat bepaal dat as iemand sterf en sy vrou kinderloos agterlaat, sy broer met die weduwee moet trou en so vir hom ’n nageslag verwek.

20. Nou was daar sewe broers. Die eerste een het getrou en kinderloos gesterf.

21. Die tweede een het toe met haar getrou, maar ook kinderloos gesterf. So ook die derde een.

22. So het dit aangegaan totdat al sewe gesterf het sonder om kinders agter te laat. Laaste van almal is die vrou ook dood.

23. Sê nou vir ons wie se vrou sal sy by die opstanding wees. Al sewe was tog met haar getroud.”

24. Jesus het hulle geantwoord: “Julle probleem is dat julle nie die Skrif ken nie. Julle besef ook nie hoe magtig God is nie.

25. Want ná die opstanding uit die dood sal daar nie meer huwelike bestaan nie. Mense sal soos engele in die hemel wees.

26. En wat die kwessie van die opstanding van die dooies betref – het julle nie raakgelees wat daar in die boek van Moses staan, by die gedeelte oor die brandende doringbos nie? Lank nadat Abraham en Isak en Jakob reeds dood was, het God immers vir Moses gesê: ‘Ek is die God van Abraham en Isak en Jakob.’

27. Hy is duidelik die God van lewende mense, nie van dooies nie. Julle is dus totaal verkeerd.”

28. Een van die skrifkenners het nadergestaan en geluister na die argument. Beïndruk deur Jesus se goeie antwoord aan die Sadduseërs, vra hy Hom toe: “Watter gebod is die heel belangrikste?”

29. Jesus het hom geantwoord: “Die belangrikste gebod is die volgende: ‘Luister, o Israel, die Here ons God is die énigste Here.

30. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou ganse siel, met jou totale verstand en met al jou krag.’

31. Die tweede gebod is net so belangrik: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Hierdie twee vorm saam die allerbelangrikste opdrag.”

32. Die skrifkenner sê toe vir Hom: “Leermeester, u het dit pragtig gestel. U het tereg gesê dat daar net een God is.

33. En ek stem volkome saam dat ek Hom moet liefhê met my hele hart, met my volle denke en met al my krag, en my naaste soos myself. Dit is belangriker as al die brandoffers en ander offers.”

34. Beïndruk deur die man se insig het Jesus vir hom gesê: “Jy is inderdaad naby aan God se koninkryk!” Hierna het niemand Hom weer met ’n strikvraag in ’n hoek probeer dryf nie.

35. Later, toe Jesus besig was om die mense by die tempel te onderrig, het Hy die volgende vraag gestel: “Hoe is dit dan dat die skrifkenners beweer dat die Messias die seun van Dawid is?

36. Dawid het tog self deur die Heilige Gees gesê:‘Die Here het vir my Here gesê:Sit aan my regterhandtotdat Ek jou vyandeheeltemal aan jou onderwerp het.’

Lees volledige hoofstuk Markus 12