Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 1:24-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

24. “Los ons uit, Jesus van Nasaret! Het jy gekom om ons te vernietig? Ek ken jou – jy is die Heilige van God!”

25. Maar Jesus het hom bestraf en beveel: “Bly stil, en gaan uit hom uit!”

26. Daarop het die onrein gees hom stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en uit hom uitgegaan.

27. Hulle was almal verstom en het mekaar opgewonde begin uitvra: “Wat gaan hier aan? Watter nuwe soort lering is dit hierdie? Dit het soveel gesag! Selfs onrein geeste luister na sy opdragte!”

28. Die nuus oor wat Jesus gedoen het, het dadelik deur die hele omgewing van Galilea versprei.

29. Nadat Jesus en sy dissipels uit die sinagoge gekom het, het hulle dadelik na die huis van Simon en Andreas gegaan. Jakobus en Johannes was ook by hulle.

30. Simon se skoonma was siek in die bed vanweë ’n hoë koors. Hulle het dadelik vir Jesus van haar vertel.

31. Hy het toe na haar bed toe gegaan, haar hand gevat en haar opgehelp. Die koors was weg en sy het vir hulle ’n ete voorberei.

32. Teen sononder daardie aand is baie siekes en mense wat onder die mag van bose geeste was, na Hom gebring.

33. Die hele Kapernaum het by die deur saamgedrom om alles te sien.

34. Jesus het baie siekes met allerlei kwale gesond gemaak en baie duiwels uit die mense gedryf, maar omdat hulle geweet het wie Hy is, het Hy hulle die swye opgelê.

35. Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ’n stil plek gaan bid.

36. Later het Simon en die ander mense by hom agter Jesus aan gegaan

37. en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal vra na U.”

38. Jesus het egter geantwoord: “Ons moet ook nog verder gaan na die omliggende dorpe sodat Ek ook daar kan preek. Dit is immers waarvoor Ek gekom het.”

Lees volledige hoofstuk Markus 1