Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 1:20-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. Hy het hulle ook geroep, en dadelik het hulle hulle pa en sy werksmense net so gelos en saam met Jesus gegaan.

21. Jesus en sy dissipels het in Kapernaum aangekom. Op die Sabbatdag het Hy dadelik na die sinagoge toe gegaan en Hy was besig om daar onderrig te gee.

22. Hulle was verbaas oor sy onderrig, want Hy het onderrig gegee soos iemand met ware gesag – heeltemal anders as die skrifkenners.

23. Skielik was daar in hulle sinagoge ’n man met ’n onrein gees wat begin uitroep:

24. “Los ons uit, Jesus van Nasaret! Het jy gekom om ons te vernietig? Ek ken jou – jy is die Heilige van God!”

25. Maar Jesus het hom bestraf en beveel: “Bly stil, en gaan uit hom uit!”

26. Daarop het die onrein gees hom stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en uit hom uitgegaan.

27. Hulle was almal verstom en het mekaar opgewonde begin uitvra: “Wat gaan hier aan? Watter nuwe soort lering is dit hierdie? Dit het soveel gesag! Selfs onrein geeste luister na sy opdragte!”

28. Die nuus oor wat Jesus gedoen het, het dadelik deur die hele omgewing van Galilea versprei.

29. Nadat Jesus en sy dissipels uit die sinagoge gekom het, het hulle dadelik na die huis van Simon en Andreas gegaan. Jakobus en Johannes was ook by hulle.

Lees volledige hoofstuk Markus 1