Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Eendag het Jesus sy twaalf apostels bymekaargeroep en hulle mag en gesag oor duiwels gegee asook om alle siektes te genees.

2. Toe het Hy hulle uitgestuur om almal te gaan vertel van die koningsheerskappy van God, en om siekes te genees.

3. “Moenie eers ’n kierie saamvat nie,” het Hy gesê, “of ’n reissak of kos of geld nie; nie eers bo-klere nie.

4. Wanneer julle in ’n dorp kom, bly dan in die eerste die beste huis.

5. As die mense van die dorp by julle aankoms nie julle boodskap aanvaar nie, skud dan die stof van julle voete af by julle vertrek. Dit is ’n teken dat julle daardie dorp aan sy eie lot oorlaat.”

6. So het hulle dan na die dorpies vertrek, die Goeie Nuus verkondig en die siekes gesond gemaak.

7. Toe Herodes Antipas hoor van Jesus se wonders, was hy bekommerd en in die war, want sommige mense het gesê: “Johannes die Doper het uit die dood opgestaan.”

8. Ander het gesê: “Dit is Elia of een van die vroeëre profete wat uit die dood opgestaan het.”

9. “Vir Johannes het ek laat onthoof,” het Herodes gesê. “Maar wie is hierdie man van wie ek sulke vreemde dinge hoor?” En hy het Hom te sien probeer kry.

10. Toe die apostels terugkom, het hulle vir Jesus alles vertel wat hulle gedoen het. Toe is Hy stilletjies saam met hulle na die dorp Betsaida.

11. Maar die skare het uitgevind waarheen Hy op pad was en Hom gevolg. Hy het hulle verwelkom en hulle onderrig oor die koningsheerskappy van God, en dié wat siek was, gesond gemaak.

12. Laatmiddag het die twaalf apostels na Hom gekom en gesê: “Stuur die mense na die omliggende dorpe en plase om daar kos en verblyf vir die nag te kry. Hier is niks te eet in hierdie verlate plek nie.”

13. Maar Jesus sê: “Gee júlle vir hulle kos.” “Dis onmoontlik!” het hulle beswaar gemaak. “Ons het net vyf brode en twee visse. Of verwag U dat ons genoeg kos moet gaan koop vir hierdie hele skare?”

14. Want daar was omtrent 5 000 mans bymekaar.“Sê net hulle moet op die grond gaan sit in groepe van omtrent 50 elk,” het Jesus geantwoord.

15. Toe het al die mense gaan sit.

16. Jesus het die vyf brode en twee visse geneem, opgekyk na die hemel, en God se seën daarop gevra. Hy het toe aangehou om die brood in stukke te breek en dit saam met die vis aan sy dissipels gegee om aan die mense te gee.

17. Almal het soveel geëet as wat hulle wou en hulle het twaalf mandjies vol oorskiet opgetel.

Lees volledige hoofstuk Lukas 9