Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 8:5-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. “’n Boer het uitgegaan om saad te saai. Terwyl hy dit oor die land gestrooi het, het ’n deel op ’n voetpad geval waarop getrap word en die voëls het dit kom eet.

6. ’n Ander deel het in vlak grond op ’n klipbank geval. Hierdie saad het begin groei, maar het gou verlep en verdroog omdat daar nie vog was nie.

7. Nog ’n deel het geval waar dorings opgeskiet en die nuwe blare versmoor het.

8. En ’n ander deel het in vrugbare grond geval. Hierdie saad het gegroei en het ’n oes gelewer 100 maal soveel as wat geplant is.” Toe Hy dit sê, roep Hy uit: “Enigeen wat wil hoor, moet luister en verstaan!”

9. Sy dissipels het Hom gevra wat die gelykenis beteken.

10. Hy het geantwoord: “God het dit aan julle gegee om die geheime van sy koningsheerskappy te verstaan. Maar vir buitestanders is die gelykenisse raaisels, sodat dit waar word wat die Skrif sê:‘Hulle sien wat Ek doen,maar eintlik sien hulle nie;hulle hoor wat Ek sê,maar hulle verstaan nie.’

11. “Die betekenis van die gelykenis is dit: Die saad is God se boodskap.

12. Die saad wat op die harde pad geval het, is die mense wat die boodskap hoor, maar dan kom die duiwel en steel dit en verhoed hulle om te glo en verlos te word.

13. “Die klipperige grond is mense wat die boodskap met blydskap aanhoor. Maar soos jong plantjies in sulke grond het hulle nie diep wortels nie. Hulle glo wel vir ’n rukkie, maar hulle verlep wanneer die warm winde van beproewing waai.

14. “Die saad tussen die onkruid is mense wat die boodskap hoor en ook aanvaar, maar tog te gou word dit verdring deur die sorge en rykdom en plesiere van hierdie lewe. En só groei hulle nooit tot volwassenheid nie.

15. “Maar die saad wat in goeie grond val, is mense met ’n goeie en opregte hart wat God se boodskap hoor, daaraan vashou en konstant ’n groot oes oplewer.”

16. “Niemand steek ’n lamp op en maak dit dan met iets toe of sit dit onder ’n bed nie. Nee, lampe word op ’n lampstaander geplaas waar mense wat ’n huis binnekom, dit kan sien.

17. Want alles wat weggesteek is, sal sigbaar word en alles wat geheim is, sal uiteindelik aan die lig kom vir almal om te sien.

18. Gee daarom aandag aan wat jy hoor. Aan dié wat hulle oopstel vir my lering, sal groter begrip gegee word. Maar dié wat nie luister nie, van hulle sal selfs dit wat hulle dink hulle het, weggeneem word.”

19. Eenkeer toe Jesus se ma en broers gekom het om Hom te besoek, kon hulle vanweë die skare nie by Hom uitkom nie.

20. Iemand het vir Jesus gesê: “U ma en broers is hier buite en wil U graag sien.”

21. Jesus het geantwoord: “My ma en broers is al die mense wat die boodskap van God hoor en dit gehoorsaam.”

22. Eendag het Jesus vir sy dissipels gesê: “Kom ons vaar oor na die ander kant van die meer.” Hulle het in ’n skuit geklim en begin oorvaar.

23. Op pad oorkant toe het Jesus gaan lê om te slaap, en terwyl Hy slaap, het die wind begin opsteek. ’n Hewige storm het losgebars wat hulle wou laat ondergaan. Hulle was in lewensgevaar.

Lees volledige hoofstuk Lukas 8