Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 8:44-56 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

44. Sy het van agter na Jesus gekom en die soom van sy kleed aangeraak. Onmiddellik het die bloeding gestop.

45. “Wie het My aangeraak?” het Jesus gevra.Almal het dit ontken, en Petrus het gesê: “Meneer, die hele skare stoot en druk voortdurend teen U.”

46. Maar Jesus het vir hom gesê: “Nee, iemand het My opsetlik aangeraak, want Ek het genesende krag uit My voel vloei.”

47. Toe die vrou besef dat Jesus weet, het sy begin bewe en op haar knieë voor Hom neergeval. Die hele skare het haar hoor vertel waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het.

48. “Dogter,” het Hy vir haar gesê, “jou geloof het jou genees. Gaan in vrede.”

49. Terwyl Hy nog met haar praat, het ’n boodskapper van Jaïrus se huis af gekom met die nuus: “Jou dogter is dood. Dis nie meer nodig om die Leermeester te pla nie.”

50. Maar toe Jesus hoor wat gebeur het, sê Hy vir Jaïrus: “Moenie jou ontstel nie. Vertrou My net en dit sal goed gaan met haar.”

51. Toe hulle by die huis aankom, wou Jesus niemand saam met Hom laat ingaan nie, behalwe Petrus, Jakobus en Johannes, en die dogtertjie se pa en ma.

52. Die huis was vol mense wat gehuil en getreur het, maar Jesus sê: “Hou op huil! Sy is nie dood nie; sy slaap net.”

53. Die skare het Hom uitgelag, want almal het geweet sy is dood.

54. Jesus vat haar toe aan die hand en sê hardop: “Staan op, my kind!”

55. En op daardie oomblik het die lewe in haar teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan! Jesus vra hulle toe om haar iets te ete te gee.

56. Haar ouers was oorstelp, maar Jesus het daarop aangedring dat hulle niemand vertel wat gebeur het nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 8