Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 8:29-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

29. Want Jesus het alreeds die bose gees beveel om hom te verlaat. Die gees het hom dikwels beetgepak. Selfs al was hy met kettings geboei, het hy dit eenvoudig gebreek en in die woestyn ingehardloop, heeltemal in die mag van die bose gees.

30. “Wat is jou naam?” het Jesus gevra.“Legio,” het hy geantwoord, want hy was van baie bose geeste besete.

31. Die bose geeste het Jesus aanhou smeek om hulle nie na die onderaardse diepte te stuur nie.

32. ’n Groot trop varke het teen die berghang daar naby gewei, en die bose geeste het gesmeek om in die varke in te vaar. Jesus het hulle toegelaat.

33. Die bose geeste het toe uit die man uitgekom en in die varke gevaar, en die hele trop het teen die hang afgestorm die see in en versuip.

34. Toe die wagters dit sien, het hulle na die dorp daar naby en sy omliggende gebiede gehardloop en die nuus versprei so ver hulle gehardloop het.

35. Daar het gou ’n skare rondom Jesus vergader, want hulle wou self sien wat gebeur het. Hulle het die man wat voorheen van duiwels besete was, by Jesus se voete sien sit, geklee en by sy volle verstand; en die hele skare het bang geword.

36. Toe het die mense wat gesien het wat gebeur het, die ander vertel hoe die duiwelbesete man genees is.

37. En al die mense in daardie omgewing het Jesus gesmeek om weg te gaan en hulle uit te los, want groot vrees het hulle beetgepak.Jesus het toe in die skuit geklim en na die oorkant van die meer teruggekeer.

Lees volledige hoofstuk Lukas 8