Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 7:13-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry. “Moenie huil nie!” het Hy gesê.

14. Toe het Hy na die draagbaar toe geloop en daaraan geraak, en die draers het gaan staan. “Jong man,” het Hy gesê, “Ek sê vir jou, staan op!”

15. Toe het die dooie regop gesit en met die mense om hom begin praat! En Jesus het hom aan sy ma teruggegee.

16. Groot vrees het die skare oorweldig – hulle het God geprys en gesê: “’n Magtige profeet het onder ons opgestaan!” en: “God het besluit om na sy mense om te sien!”

17. Die berig oor wat Jesus die dag gedoen het, het deur die hele Judea en selfs oor die grense heen versprei.

18. Johannes die Doper se dissipels het hom alles vertel wat Jesus gedoen het. Johannes het dus twee van sy dissipels geroep

19. en hulle na die Here toe gestuur om te vra: “Is U die Messias wat ons verwag, of moet ons iemand anders verwag?”

20. Johannes die Doper se twee dissipels het Jesus gekry en vir Hom gesê: “Johannes die Doper het ons gestuur om te vra: ‘Is U die Messias wat ons verwag, of moet ons iemand anders verwag?’”

21. Op daardie oomblik het Jesus baie mense van verskeie siektes genees, en Hy het bose geeste uitgewerp en blindes se sig herstel.

22. Hy het vir Johannes se dissipels gesê: “Gaan terug na Johannes, en vertel hom wat julle gesien en gehoor het – blindes sien, verlamdes loop, mense met ernstige velsiektes word genees, dowes hoor, dooies word tot die lewe opgewek, en die Goeie Nuus word aan die armes verkondig.

23. En sê vir hom: ‘Gelukkig is hulle wat nie aan My aanstoot neem nie.’”

24. Nadat hulle weg is, het Jesus met die skare oor Johannes gepraat. “Wie is hierdie man in die woestyn na wie julle gaan kyk het? Het julle hom soos ’n riet gevind wat deur elke windvlagie beweeg word?

25. Of het julle verwag om ’n man geklee in deftige klere te sien? Nee, mense wat mooi klere dra en in luuksheid lewe, word in paleise gevind, nie in die woestyn nie.

26. Het julle na ’n profeet gesoek? Ja, en hy is meer as ’n profeet.

27. Johannes is die man na wie die Skrif verwys wanneer dit sê: ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit,en hy sal die pad voor jou gereedmaak.’

28. “Ek sê vir julle, van almal wat ooit geleef het, is niemand groter as Johannes nie. Tog is selfs die geringste persoon in die koninkryk van God groter as hy!”

29. Toe hulle dit hoor, het al die mense, ook die tollenaars, saamgestem dat God se plan reg was, want hulle is deur Johannes gedoop.

30. Maar die Fariseërs en wetskenners het God se plan vir hulle verwerp, want hulle het geweier om deur Johannes gedoop te word.

31. “Hoe sal Ek hierdie geslag mense beskryf?” het Jesus gevra. “Waarmee sal Ek hulle vergelyk?

32. Hulle is soos ’n groep kinders wat ’n spel op die dorpsplein speel. Hulle kla teenoor hulle vriende: ‘Ons het vir julle ’n bruilofslied gespeel, maar julle wou nie dans nie. Ons het ’n begrafnislied gesing,maar julle het geweier om te huil.’

Lees volledige hoofstuk Lukas 7