Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 5:22-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Jesus het geweet wat hulle dink, en vra toe vir hulle: “Wat redeneer julle so by julleself?

23. Wat is makliker om te sê: ‘Jou sondes is vergewe’ of ‘staan op en loop’?

24. Ek sal vir julle bewys dat Ek, die Seun van die Mens, die mag het om op aarde sondes te vergewe.” Jesus draai toe na die verlamde man en sê: “Ek sê vir jou, staan op, vat jou slaapmat en gaan huis toe.”

25. En dadelik, terwyl almal nog toekyk, het die man opgespring, sy slaapmat opgetel en huis toe gegaan terwyl hy God prys.

26. Almal is aangegryp met groot verwondering en eerbiedige vrees. Hulle het God geprys en oor en oor gesê: “Ons het vandag verstommende dinge gesien!”

27. Later, toe Jesus die dorp verlaat, het Hy ’n tollenaar met die naam Levi by sy tolhokkie sien sit. “Kom, word my dissipel!” het Jesus vir hom gesê.

28. Levi het opgestaan, alles net so gelos en Jesus gevolg.

29. Kort daarna het Levi ’n feesmaal in sy huis aangebied met Jesus as die eregas. Baie van Levi se medetollenaars en ander gaste was daar.

30. Maar die Fariseërs en skrifkenners wat aan die Fariseërparty behoort, het by Jesus se dissipels gaan kla: “Waarom eet en drink julle saam met sulke immorele karakters?”

31. Jesus het hulle geantwoord: “Gesonde mense het nie ’n dokter nodig nie – siek mense wel.

32. Ek het gekom om sondaars te roep om tot inkeer te kom, nie om my tyd te verwyl met hulle wat dink dat hulle reeds goed genoeg is nie.”

33. Die godsdienstige leiers sê toe vir Jesus: “Johannes die Doper se dissipels vas en bid gereeld en so ook die dissipels van die Fariseërs. Hoekom vier jou dissipels altyd fees?”

34. Jesus het gevra: “Vas huweliksgaste dan terwyl hulle saam met die bruidegom feesvier?

35. Eendag sal die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas.”

36. Toe het Jesus vir hulle ’n gelykenis vertel om sy punt te illustreer: “Niemand skeur tog ’n stuk materiaal van ’n nuwe kledingstuk af en lap ’n ou kledingstuk daarmee nie. Want dan sal die nuwe kledingstuk geskeur word en boonop sal die nuwe lap nie eens by die ou kledingstuk pas nie.

37. En niemand gooi nuwe wyn in ou wynsakke nie. Die nuwe wyn sal die ou wynsakke laat bars en die wyn uitstort en die wynsakke vernietig.

Lees volledige hoofstuk Lukas 5