Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 5:17-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Eendag terwyl Jesus besig was om mense te leer, het sommige Fariseërs en leermeesters van die wet van Moses daar naby gesit. Hulle het gekom uit elke dorpie van Galilea en Judea, en ook so ver as Jerusalem. En die Here se genesende krag was sterk in Jesus aan die werk.

18. ’n Paar mans het daar aangekom terwyl hulle ’n verlamde man op ’n slaapmat dra. Hulle het deur die skare probeer dring om by Jesus uit te kom,

19. maar hulle kon nie daarin slaag nie. Hulle het dus op die dak geklim, ’n paar teëls losgemaak en die verlamde man deur die opening laat sak, tussen die mense in, tot reg voor Jesus.

20. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die man: “Mens, jou sondes is vergewe.”

21. “Wie dink hierdie man is hy?” het die skrifkenners en Fariseërs vir mekaar gevra. “Dit is godslasterlik! Wie behalwe God kan sondes vergewe?”

22. Jesus het geweet wat hulle dink, en vra toe vir hulle: “Wat redeneer julle so by julleself?

23. Wat is makliker om te sê: ‘Jou sondes is vergewe’ of ‘staan op en loop’?

24. Ek sal vir julle bewys dat Ek, die Seun van die Mens, die mag het om op aarde sondes te vergewe.” Jesus draai toe na die verlamde man en sê: “Ek sê vir jou, staan op, vat jou slaapmat en gaan huis toe.”

25. En dadelik, terwyl almal nog toekyk, het die man opgespring, sy slaapmat opgetel en huis toe gegaan terwyl hy God prys.

26. Almal is aangegryp met groot verwondering en eerbiedige vrees. Hulle het God geprys en oor en oor gesê: “Ons het vandag verstommende dinge gesien!”

27. Later, toe Jesus die dorp verlaat, het Hy ’n tollenaar met die naam Levi by sy tolhokkie sien sit. “Kom, word my dissipel!” het Jesus vir hom gesê.

28. Levi het opgestaan, alles net so gelos en Jesus gevolg.

29. Kort daarna het Levi ’n feesmaal in sy huis aangebied met Jesus as die eregas. Baie van Levi se medetollenaars en ander gaste was daar.

30. Maar die Fariseërs en skrifkenners wat aan die Fariseërparty behoort, het by Jesus se dissipels gaan kla: “Waarom eet en drink julle saam met sulke immorele karakters?”

Lees volledige hoofstuk Lukas 5