Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 4:35-44 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

35. Jesus het hom kortgevat. “Bly stil!” het Hy vir die duiwel gesê. “Kom uit die man uit!” Die duiwel het die man daar voor almal op die vloer gegooi; toe het die duiwel uit hom gegaan sonder om hom verder seer te maak.

36. Die mense het verbaas uitgeroep: “Watter gesag en mag het hierdie man se woorde nie! Selfs bose geeste gehoorsaam hom en vlug op sy bevel!”

37. Die berig oor wat Jesus gedoen het, het soos ’n veldbrand deur die hele streek versprei.

38. Nadat Hy die sinagoge verlaat het, is Jesus na Simon se huis waar Simon se skoonma baie siek met ’n hoë koors was. “Maak haar asseblief gesond,” het almal gesmeek.

39. Hy het by haar bed gaan staan, die koors bestraf, en sy het dadelik gesond geword. Sy het onmiddellik opgestaan en ’n maaltyd vir hulle voorberei.

40. Met sononder daardie dag het almal hulle siekes na Jesus toe gebring. Ongeag watter siektes hulle gehad het, Jesus het hulle aangeraak en almal genees.

41. Sommige was van duiwels besete en die duiwels het op sy bevel uitgekom terwyl hulle skree: “U is die Seun van God.” Maar omdat hulle geweet het dat Hy die Messias is, het Hy hulle tereggewys en verbied om daaroor te praat.

42. Vroeg die volgende môre het Jesus na ’n verlate plek vertrek. Die skares het oral na Hom gesoek, en toe hulle Hom uiteindelik kry, het hulle Hom gesmeek om hulle nie te verlaat nie.

43. Maar Hy het geantwoord: “Ek moet die Goeie Nuus van die koningsheerskappy van God in ander plekke ook verkondig, want dit is waarvoor Ek gestuur is.”

44. Hy het dus voortgegaan om in die Joodse sinagoges te preek.

Lees volledige hoofstuk Lukas 4