Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 2:25-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

25. Daar was ’n man met die naam Simeon wat in Jerusalem gewoon het. Hy was wetsgetrou en baie toegewyd. Hy was met die Heilige Gees vervul en het gretig uitgesien na Israel se bevryding.

26. Die Heilige Gees het aan hom bekendgemaak dat hy nie sou sterf voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie.

27. Daardie dag het die Gees hom na die tempel toe gelei. Toe Maria en Josef opdaag om die Kindjie Jesus aan die Here te wy, soos die wet vereis het,

28. was Simeon daar. Hy het die Kind in sy arms geneem en God geprys:

29. “Here, nou kan u dienskneg in vrede sterfsoos U my beloof het,

30. want ek het die verlossing gesien

31. wat U voorberei het voor die oë van alle volke,

32. ’n lig om God aan die nasiesbekend te maak,en die glorie van u volk Israel!”

33. Josef en Maria was verbaas oor wat van Jesus gesê is.

34. Toe het Simeon hulle geseën en vir Maria gesê: “Hierdie Kind is bestem tot ’n val en opstanding van baie in Israel, en ’n teken wat weerspreek sal word. Hy sal ’n teken wees waaroor mense sal verskil.

35. So sal die diepste gedagtes van baie harte bekend word. Maar wat jou betref – daar sal ’n swaard deur jou siel gaan.”

36. Anna, ’n profetes, was ook daar in die tempel. Sy was die dogter van Fanuel uit die stam van Aser, en sy was baie oud. Sy was ’n weduwee; haar man is oorlede toe hulle nog maar net sewe jaar getroud was.

37. Sy was nou 84 jaar oud. Sy was nooit weg van die tempel af nie en het dag en nag daar gebly en God gedien met vas en gebed.

38. Sy het daar aangekom net toe Simeon met Maria en Josef gepraat het, en sy het God begin prys. Sy het oor Jesus gepraat met almal wat verlang het na die bevryding van Jerusalem.

39. Toe Jesus se ouers al die vereistes van die wet van die Here nagekom het, het hulle teruggekeer na hulle dorp, Nasaret in Galilea.

40. Daar het die Kindjie sterk en gesond grootgeword. Hy was vervul met wysheid, en God se guns was op Hom.

Lees volledige hoofstuk Lukas 2