Ou Testament

Nuwe Testament

Judas 1:8-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Net so is dit nou met hierdie goddelose mense: terwyl hulle op droomvisioene aanspraak maak, besoedel hulle hulle eie liggame, verwerp hulle gesag en beledig hulle die glorieryke hemelwesens.

9. Selfs Migael, die aartsengel, het dit nie eers gedoen nie. Toe hy met die duiwel in ’n ernstige woordestryd oor Moses se liggaam gewikkel was, het hy dit nie gewaag om ’n beledigende oordeel teen hom uit te spreek nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal met jou afreken.”

10. Hierdie mense praat beledigend oor dinge wat hulle nie regtig verstaan nie. Hulle is eintlik soos redelose diere wat net hulle eie natuurlike instinkte ken waardeur hulle hulle eie vernietiging veroorsaak.

11. Ellende wag op hulle omdat hulle hulle op die pad van Kain bevind; deur dieselfde dwaling as Bileam het hulle hulleself verryk; deur dieselfde opstandigheid van Korag het hulle hulleself vernietig.

12. Hulle is soos vrot kolle by julle liefdesmaaltye terwyl hulle onbeskaamd saam feesvier en hulle ooreet; hulle is leë miswolke wat deur die winde verbygewaai word. Hulle is bome sonder vrugte in die herfsseisoen, dubbel-dood en ontwortel.

13. Hulle is woeste seegolwe wat hulle eie skandes bruisend laat opskuim; hulle is verdwaalde sterre; vir hulle is plek voorberei in die somber diepte van die ewige duisternis.

14. Oor hierdie mense het Henog, wat sewe geslagte ná Adam geleef het, geprofeteer en gesê: “Kyk, die Here kom met sy tienduisende heilige engele,

15. en Hy sal oor almal oordeel en die goddeloses skuldig bevind oor al hul goddelose optredes en oor al die skelwoorde wat die goddelose sondaars teen Hom uitgespreek het.”

16. Hierdie mense is klakouse en morpotte. Hulle rig hulle lewe in volgens hulle natuurlike drange, en met die mond raak hulle arrogante dinge kwyt; hulle vlei ander ter wille van eie voordeel.

17. Julle, geliefdes, moet egter die woorde wat die apostels van ons Here Jesus Christus lank terug gesê het, goed onthou.

18. Hulle het vir julle gesê dat daar in die eindtyd spotters sal wees wat hulle lewe inrig volgens hulle eie goddelose menslike drange.

19. Dit is juis daardie mense wat verdeeldheid veroorsaak; hulle leef volgens hulle natuurlike drange en het nie die Gees in hulle nie.

20. Maar julle, geliefdes, moet aanhou om julleself op te bou op die fondament van julle allerheiligste geloof. Hou aan om te bid terwyl julle heg verbind bly aan die Heilige Gees.

21. Hou julle liefdesband met God in stand. Verwag die ontferming van ons Here Jesus Christus met die ewige lewe as einddoel.

22. Dié wat nog besluiteloos is, moet julle met ontferming behandel.

23. Red ander deur hulle uit die vuur te ruk. Aan nog ander moet julle ontferming betoon, maar wees uiters versigtig dat julle nie ook deur hulle sondige luste besmet word nie, ja, verafsku dit.

Lees volledige hoofstuk Judas 1