Ou Testament

Nuwe Testament

Judas 1:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Hierdie brief kom van Judas. Ek is ’n dienskneg van Jesus Christus en ’n broer van Jakobus.

2. Ek skryf aan julle vir wie God die Vader liefhet – julle wat deur Jesus Christus geroep is en veilig deur Hom bewaar word.Mag God se ontferming, vrede en liefde steeds meer en meer julle deel word.

3. Geliefdes, ek was baie haastig om aan julle te skryf oor die verlossing wat ons met mekaar deel. Maar nou voel ek verplig om aan julle te skryf en julle aan te spoor om aan te hou stry vir die geloofsbelydenis wat eenmalig oorgelewer is aan God se mense.

4. Want sekere mense het hulle in julle geledere ingewurm, goddelose mense wat reeds lank tevore vir die oordeel bestem was. Hulle verwring die genade van ons God tot roekeloosheid en misken ons enigste Eienaar en Here, Jesus Christus.

5. Ek wil julle daaraan herinner, al weet julle al die dinge, dat die Here sy volk uit Egipte bevry het, maar later tog dié vernietig het wat nie wou glo nie.

6. En wat van die engele wat hulle nie gehou het by hulle perke van gesag nie, maar hulle eie woonplek verlaat het? God het hulle met ewige kettings in die donker onder bewaking gehou vir die oordeelsaankondiging op die groot dag.

7. Moet ook nie vir Sodom en Gomorra en die omliggende dorpe vergeet nie. Op dieselfde manier as die engele het hulle seksuele sondes gepleeg en gehunker na wesens anders as hulleself. As waarskuwende voorbeeld verduur hulle die straf van die ewige vuur.

Lees volledige hoofstuk Judas 1