Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 21:14-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Dit was reeds die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is.

15. Toe hulle klaar ontbyt geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief, meer as hierdies?”Petrus sê vir Jesus: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.”Jesus sê vir hom: “Gaan versorg my lammers.”

16. Jesus vra hom toe ’n tweede keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?”“Ja, Here, U weet dat ek U liefhet,” antwoord Petrus.Jesus sê vir hom: “Wees ’n herder vir my skape.”

17. ’n Derde keer vra Jesus hom: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?”Petrus het hartseer geword omdat Jesus hom ’n derde keer gevra het: “Het jy My lief?” en hy antwoord Jesus: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.”Jesus sê vir hom: “Gaan versorg my skape.

18. Ek verseker jou, toe jy nog jonger was, het jy self jou klere vasgegordel en het jy rondgegaan waar jy ook al wou; wanneer jy egter oud is, sal jy jou hande uitstrek en iemand anders sal jou klere vasgordel en jou bring waar jy nie graag sal wil wees nie.”

19. Dit het Jesus gesê om te sinspeel op die soort dood waarmee Petrus God sou verheerlik.Nadat Hy dit gesê het, sê Jesus vir Petrus: “Volg My as my dissipel!”

20. Toe Petrus omdraai, sien hy dat die lieflingdissipel Jesus volg. Dit is hy wat by die paasete tot baie na aan Jesus se bors oorgeleun en gevra het: “Here, wie is die een wat U gaan uitlewer?”

21. Toe Petrus hom sien, vra hy vir Jesus: “Wat van hom, Here?”

22. Jesus reageer daarop: “As Ek wil hê dat hy moet bly leef totdat Ek terugkeer, wat het dit met jou te doen? Volg jý My!”

23. Hierdie gerug het toe onder die gelowiges rondgegaan dat daardie dissipel nie sal sterf nie. Jesus het egter nie vir Petrus gesê dat daardie dissipel nie sal sterf nie, maar eintlik net: “As Ek wou hê dat hy moet bly leef totdat Ek terugkeer, wat gaan dit jou aan?”

Lees volledige hoofstuk Johannes 21