Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 2:6-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Daar het ses klipkanne gestaan met water wat die Jode vir hulle rituele reiniging gebruik het. Elkeen het ongeveer 100 liter gehou.

7. Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water!” Hulle het dit tot heel bo vol gemaak.

8. Toe sê Jesus ook nog vir hulle: “Skep nou daarvan uit en vat dit vir die seremoniemeester.” Hulle het dit gedoen.

9. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom. (Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water geskep het, het wel geweet.)

10. Die seremoniemeester sê toe vir die bruidegom: “Elke gasheer sit volgens gebruik eers die goeie wyn voor, en wanneer die gaste nie meer so goed kan onderskei nie, die swakker gehalte; jy het egter die goeie wyn tot nou toe teruggehou.”

11. Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana, in Galilea, gedoen. Hy het sy Goddelike heerlikheid op só ’n manier sigbaar gemaak, en sy dissipels het in Hom begin glo.

12. Hierna het Jesus, sy ma, broers en dissipels na Kapernaum toe vertrek waar hulle vir ’n kort tyd gebly het.

13. Dit was naby die tyd van die Paasfees van die Jode, en Jesus het daarvoor Jerusalem toe gegaan.

14. In die tempelgebied het Hy die smouse met hulle beeste, skape en duiwe aangetref, asook die geldwisselaars by hulle tafels.

15. Met toutjies het Jesus toe ’n sweep gevleg en almal uit die tempelgebied verjaag, ook die skape en beeste. Hy het die geldstukke van die geldwisselaars op die grond uitgegooi en hulle tafels omgekeer.

16. En vir die smouse wat die duiwe verkoop het, het Jesus gesê: “Vat hierdie goed dadelik weg! Moenie die huis van my Vader ’n besigheidsplek maak nie!”

17. Jesus se dissipels het onthou dat daar geskryf staan: “Die ywer vir u huis brand in my binneste.”

18. Die Jode het daarop reageer: “Oor watter wonderteken beskik jy om te bewys dat jy hierdie dinge mag doen?”

19. Jesus het hulle geantwoord: “Sloop hierdie tempel en in drie dae sal Ek dit weer oprig.”

20. Die Jode kap toe heftig terug: “Daar is vir 46 jaar lank aan hierdie tempel gebou, en jy sal dit binne drie dae weer oprig?”

Lees volledige hoofstuk Johannes 2