Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 19:28-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

28. Hierna het Jesus, terwyl Hy weet dat alles reeds afgehandel is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”

29. ’n Kruik vol suur wyn het daar gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptak gesit en dit teen sy mond gehou.

30. Toe Jesus die suur wyn proe, het Hy gesê: “Dit is nou afgehandel!” Toe het Hy sy kop vooroor laat val en sy asem uitgeblaas.

31. Aangesien dit die voorbereiding vir die Sabbat was, wou die Jode nie hê dat die liggame op die Sabbat aan die kruis moes bly hang nie, want daardie spesifieke Sabbat was ’n belangrike een. Hulle het Pilatus toe gaan vra dat die kruiselinge se bene gebreek en die liggame verwyder moes word.

32. Die soldate het toe gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die ander een wat saam met Jesus gekruisig was.

33. Toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy alreeds gesterf het, het hulle nie sy bene gebreek nie.

34. Een van die soldate het egter sy spies in Jesus se sy gesteek en daar het dadelik bloed en water uitgevloei.

35. Hy wat dit aanskou het, vertel dit gesaghebbend, en sy getuienis is waar. Hy weet ook dat hy die waarheid praat sodat ook julle tot geloof moet kom.

36. Want hierdie dinge het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.”

37. Verder sê die Skrif: “Hulle sal Hom aanskou vir wie hulle deurboor het.”

38. Hierna het Josef wat van Arimatea afkomstig was – omdat hy vir die Joodse leiers bang was, was hy ’n geheime dissipel van Jesus – Pilatus gaan vra of hy die liggaam van Jesus kon kry. Pilatus het dit toegestaan. Josef het toe die liggaam gaan haal.

39. Nikodemus, wat Jesus die eerste keer gedurende die nag besoek het, het ook gekom en ’n mengsel van ongeveer 50 liter mirre en aalwyn gebring.

40. Hulle het toe Jesus se liggaam geneem en dit in linnedoeke saam met die speserye toegevou soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir ’n begrafnis voor te berei.

41. Op die plek waar Jesus gekruisig is, was ’n tuin en in die tuin ’n nuwe graf waarin nog niemand begrawe was nie.

42. Met die oog op die Joodse dag van voorbereiding, en omdat die graf naby was, het hulle Jesus daar neergelê.

Lees volledige hoofstuk Johannes 19