Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 17:16-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Hulle behoort nie aan die wêreld nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie.

17. Laat hulle aan U toegewy wees deur ’n hegte verbintenis aan die waarheid. U woord is die waarheid.

18. Net soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur.

19. En ter wille van hulle wy Ek Myself aan U toe sodat hulle ook deur ’n hegte verbintenis aan die waarheid aan U toegewy kan wees.

20. “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat op grond van hulle boodskap nog in My sal glo.

21. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in ’n hegte verhouding met My en Ek met U is; dat hulle ook in ’n hegte verhouding met Ons mag leef sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.

22. En Ek het die heerlikheid wat U aan My gegee het, ook aan hulle gegee sodat hulle een kan wees net soos Ons een is.

23. Dit beteken dat Ek in ’n hegte verhouding met hulle en U met My moet leef, sodat hulle ten volle een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en dat U hulle liefhet net soos U My liefhet.

24. “Vader, Ek wil graag hê dat dié mense wat U aan My gegee het, ook saam met My moet wees waar Ek is sodat hulle my heerlikheid kan sien, dié heerlikheid wat U aan My gegee het omdat U My voor die skepping van die wêreld liefgehad het.

25. “Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U en hulle hier weet dat U My gestuur het.

26. Ek het u Naam aan hulle bekendgemaak en Ek sal dit nog verder bekendmaak sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle mag leef en Ek ook in ’n hegte verhouding met hulle mag leef.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 17