Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 16:3-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Hulle sal hierdie dinge doen omdat hulle nie My of die Vader geken het nie.

4. Ek het dit nou vir julle gesê sodat, wanneer hulle uur ook al slaan, julle moet onthou dat Ek dit vir julle gesê het. Ek het dit egter nie van die heel begin af vir julle gesê nie omdat Ek nog heeltyd saam met julle was.”

5. “Nou is Ek op pad terug na Hom toe wat My gestuur het; tog vra niemand van julle vir My: ‘Waarheen gaan U?’ nie.

6. Omdat Ek dit egter vir julle gesê het, het hartseer julle harte oorweldig.

7. Laat Ek julle egter die waarheid vertel: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Raadgewer, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek die Raadgewer na julle toe stuur.

8. En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sy sonde, van God se regverdige oordeel, en dat die oordeel hier is.

9. Van sonde, omdat die wêreld nie in My glo nie;

10. van God se regverdige oordeel, omdat Ek teruggaan na die Vader toe en julle My nie meer sien nie;

11. van veroordeling, omdat die regeerder van hierdie wêreld reeds veroordeel is.

12. “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou verwerk nie.

13. Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel.

14. Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle sal meedeel.

15. Alles waaroor die Vader beskik, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: ‘Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle meedeel.’”

16. “Nog net ’n kort tydjie, en julle sien My nie meer nie; en weer ’n kort tydjie, dan sal julle My weer sien.”

17. Sommige van sy dissipels het toe vir mekaar gesê: “Wat beteken dit dat Hy vir ons sê: ‘Nog net ’n kort tydjie, dan sien julle My nie meer nie, en weer ’n kort tydjie, dan sal julle My weer sien’ en: ‘Ek gaan na die Vader toe’?

18. Hierdie ‘kort tydjie’ waarvan Hy praat, wat beteken dit tog? Ons verstaan nie wat Hy bedoel nie,” het hulle gesê.

19. Jesus het agtergekom dat hulle Hom daaroor wou uitvra, en Hy sê toe vir hulle: “Probeer julle onder mekaar agterkom wat Ek bedoel het met: ‘Nog ’n kort tydjie, dan sien julle My nie; en weer ’n kort tydjie, dan sal julle My weer sien’?

Lees volledige hoofstuk Johannes 16