Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 4:7-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Wys dus dat julle van God afhanklik is deur na Hom te luister. Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug.

8. Kom nader aan God, en Hy sal nader aan julle kom. Was julle hande van die sonde wat daaraan kleef, julle sondaars, maak julle harte skoon, julle tweegesigte wat nie kan besluit aan wie julle getrou wil wees nie.

9. Trane moet wys julle is jammer oor die verkeerde goed wat julle aangevang het! Treur en huil! Julle gelag moet in droefheid verander, en julle blydskap in bedruktheid!

10. Val voor die Here neer en wys dat julle van Hom afhanklik is, en Hy sal julle optel en aan julle aansien gee.

11. Moenie lelike goed van mekaar sê nie, broers en susters. As julle lelike dinge van ’n medegelowige sê of ’n medegelowige kritiseer, dan kritiseer julle die wet. En as julle die wet kritiseer, is julle nie daders van die wet nie, maar regters.

12. Net God – Hý wat die wet gemaak het – kan as Regter oor ons optree. Net Hý het die mag om te verlos of te vernietig. Dit is dus baie duidelik dat julle nie regter oor julle naaste kan speel nie.

13. Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly, ons sal sake doen en wins maak.”

14. Julle weet nie eers wat die lewe môre vir julle inhou nie! Julle is soos die oggendmis – dis vir ’n rukkie sigbaar, en dan is dit weer weg.

15. Julle moet eerder sê: “As die Here dit so beskik, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.”

16. Maar nou is julle arrogant en spog julle. Al sulke grootpratery is verkeerd.

17. Hou in gedagte: As ’n mens weet wat reg is en dit nie doen nie, is dit sonde.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 4