Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 9:14-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die werking van die ewige Gees as ’n volkome offer aan God geoffer het, ons gewetens skoon was van die las van dade wat tot die dood lei sodat ons die lewende God kan dien!

15. Daarom is Hy ook die Middelaar van die nuwe verbond tussen God en ons sodat almal wat geroep is, die ewige erfdeel kan ontvang wat God vir hulle beloof het. Want Christus het gesterf om hulle te verlos van die straf op die oortredings wat onder die eerste verbond begaan is.

16. As iemand sterf en hy laat ’n testament na, kry niemand enigiets voordat die testateur werklik as dood bewys is nie.

17. ’n Testament word tog eers geldig by afsterwe; solank die testateur nog lewe, het dit geen regsgeldigheid nie.

18. Dit verduidelik ook waarom die eerste verbond nie sonder bloed ingestel is nie.

19. Nadat Moses al die gebooie van die wet aan die hele volk voorgehou het, het hy die bloed van kalwers en bokke met water verdun en sowel die wetboek as die hele volk met behulp van rooi wol en hisoptakkies besprinkel.

20. Daarop het hy verklaar: “Hierdie bloed bekragtig die verbond wat God met julle gesluit het.”

21. En op dieselfde manier het hy bloed gesprinkel op die verbondstent en al die voorwerpe vir gebruik by die erediens.

22. Ons kan inderdaad sê dat volgens die wet feitlik alles met bloed gereinig word. Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis van sonde plaas nie.

23. Dit is waarom die aardse verbondstent en alles daarin – wat maar net afbeeldings van die dinge in die hemel is – met die bloed van diere gereinig moes word. Maar die hemelse dinge self het ’n baie beter soort offerande as hierdie nodig gehad.

24. Christus het immers tot in die hemel self ingegaan om nou as ons voorspraak voor God te verskyn. Hy het nie in die aardse heiligdom ingegaan nie – dit is tog maar net ’n namaaksel van die ware een.

25. Hy het ook nie in die hemel ingegaan om Homself oor en oor te offer soos die aardse hoofpriester jaar na jaar in die Allerheiligste moes ingaan om die bloed van diere te offer nie.

26. Anders sou Christus mos telkens weer moes sterf van die begin van die wêreld af! O nee, Hy het nou, met die voleinding van die tye, eens en vir altyd verskyn om deur sy offer die sonde vir altyd weg te neem.

27. Soos elke mens bestem is om net een keer te sterf en daarna kom die oordeel,

28. net so is Christus ook net een keer geoffer om baie mense se sonde weg te neem. Hy sal weer kom, maar dan nie met die oog op die verlossing van sonde nie. Hierdie keer sal Hy verskyn om almal wat gretig na sy koms uitsien, finaal te verlos.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 9