Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 7:4-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Oorweeg nou hoe belangrik hierdie Melgisedek moes gewees het. Selfs Abraham, die groot stamvader van Israel, het sy belangrikheid erken deur vir hom ’n tiende van sy oorlogsbuit te gee.

5. Die priesters, wat uit die nageslag van Levi is, word in die wet beveel om ’n tiende van die volk Israel in te vorder, alhoewel hulle hulle eie bloedverwante is en ook van Abraham afstam.

6. Maar Melgisedek, wat nie van Levitiese afstamming was nie, het nietemin ’n tiende van Abraham ontvang en hom, aan wie God sy beloftes gegee het, geseën.

7. Dit kan tog nie ontken word nie dat dit altyd die meerdere is wat die mindere seën.

8. In die geval van die Joodse priesterdom word tiendes aan sterflike mense betaal. Melgisedek is egter belangriker as hulle, want daar word van hom getuig dat hy voortlewe.

9. Ons kan dus so ver gaan om te sê dat, deur Abraham, Levi ook eintlik tiendes aan Melgisedek gegee het.

10. Want alhoewel Levi op daardie stadium nog nie gebore was nie, was hy reeds in Abraham se liggaam toe Melgisedek vir Abraham ontmoet het.

11. En verder: as die Levitiese priesterskap God se plan kon verwesenlik – die volk het tog met die oog op hulle die opdrag ten opsigte van die tiendes ontvang – waarom was dit dan vir God nodig om ’n ander priester, naamlik een uit die priesterorde van Melgisedek, te voorsien, een wat nie tot die priesterorde van Aäron en die Leviete behoort nie?

12. Wanneer die priesterskap verander, moet daar noodwendig ’n aanpassing van die wet plaasvind om daarvoor voorsiening te maak.

13. Want die Een van Wie ons praat, behoort tot ’n ander stam, ’n stam waarvan niemand ooit by die altaar diens gedoen het nie.

14. Ons weet tog almal dat ons Here uit die stam van Juda afkomstig was en dat Moses nooit enigiets gerep het oor priesters uit daardie stam nie.

15. Dit alles maak dit des te meer duidelik dat as daar ’n ander priester sou kom wat met Melgisedek ooreenstemming vertoon,

16. Hy nie sou verskyn volgens die ou vereiste van fisiese afkoms nie, maar in die krag van onvernietigbare lewe.

17. Die psalmdigter het dit soos volg uitgespel toe hy van Christus gesê het:“Jy is priester vir ewigvolgens die priesterorde van Melgisedek.”

18. Ja, die ou vereiste ten opsigte van die priesterskap is tersyde gestel omdat dit oneffektief en nutteloos was;

19. die wet kon glad nie God se doel verwesenlik nie. En toe het ’n baie beter vooruitsig verskyn, een waardeur ons daadwerklik in God se teenwoordigheid kan verskyn!

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 7