Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 7:20-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. Boonop het God met ’n eed bevestig dat Christus vir altyd priester sal bly – iets wat nie in die geval van gewone priesters gebeur het nie.

21. Dis net vir Christus wat Hy gesê het:“Die Here het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie:Jy sal vir ewig priester bly.”

22. Op grond van hierdie kragtige eed het Jesus die borg geword wat instaan vir die effektiwiteit van hierdie uitnemender verbond.

23. Nog ’n verskil tussen Jesus en die Levitiese priesterskap is dat daar onder die ou stelsel baie priesters was. Die dood het verhinder dat iemand vir altyd kon aanbly.

24. Maar Jesus bly priester vir altyd; sy priesterskap word nooit op iemand anders oorgedra nie.

25. Gevolglik kan Hy hulle wat deur Hom na God toe gaan, eens en vir altyd verlos. Ja, Hy leef vir altyd om hulle saak voor God te bepleit!

26. Hý is die baie spesiale soort hoofpriester wat ons nodig het, want Hy is heilig, sonder kwaad en onbevlek deur die sonde. Hy is nou verwyder van sondige mense en bevind Hom in die hoogste hemel.

27. Anders as die ander hoofpriesters, is dit nie vir Hom nodig om daagliks eers vir sy eie sondes en daarna vir die volk offers te bring nie. Want Hy het Homself eens en vir altyd aan die kruis geoffer!

28. Die mense wat deur die wet tot hoofpriesters aangewys word, gaan uiteraard gebuk onder menslike swakhede. Maar na die bedeling van die wet, het God sy Seun met ’n eed tot ewige en volmaakte Hoofpriester verklaar.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 7