Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 6:2-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Of oor die verskillende vorme van doop en die handoplegging, of die opstanding van die dooies en die ewige oordeel nie.

3. Daarom sal ons, as God dit toelaat, binnekort ons betoog voortsit.

4-6. Intussen moet julle besef dat dit onmoontlik is om hulle wat een maal deur God verlig is, maar daarna hulle rug op God gedraai het, weer tot inkeer te bring – hulle wat God se geskenk ervaar het, wat die Heilige Gees ontvang het, wat die lieflikheid van God se woord en die kragte van God se toekomstige wêreld beleef het. As hulle dan tog hulle rug op God draai, kan hulle nie weer tot inkeer gebring word nie, want wat hulleself betref, kruisig hulle die Seun van God opnuut, en hulle maak Hom openlik tot ’n bespotting.

7. As die grond die reën indrink wat gereeld daarop val en ’n goeie oes vir die landbouers voortbring, rus God se seën daarop.

8. Maar as dit net dorings en dissels oplewer, is dit nutteloos. God sal weldra sy vloek daaroor uitspreek en uiteindelik is dit bestem vir die vuur.

9. Maar, geliefdes, al praat ons so ernstig hieroor, is ons tog wat julle betref daarvan oortuig dat dit nie op julle van toepassing is nie. Ons is positief oor julle en glo dat julle verlos sal word.

10. God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet hoe hard julle vir Hom gewerk het nie: hoe julle julle liefde vir Hom betuig het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en dit nog steeds doen nie.

11. Dit is ons hartsbegeerte dat elkeen van julle enduit dieselfde entoesiasme sal vertoon sodat julle toekomsverwagting bewaarheid kan word.

12. Dan sal julle nie traag raak nie. Inteendeel, julle sal die voorbeeld volg van hulle wat deur hulle geloof en uithouvermoë besig is om te verkry wat God beloof het.

13. Neem byvoorbeeld God se belofte aan Abraham. Omdat daar niemand groter as Hy self was by wie God ’n eed kon aflê nie, het Hy ’n eed by Homself afgelê deur te sê:

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 6